Die Weskus het pas afskeid geneem van ‘n man wat oor dekades heen ‘n blywende indruk op sy gemeenskap gemaak het.

Jesse Constable (70), ‘n geliefde opvoe­der en gemeenskapsfiguur, is onlangs aan nierversaking oorlede.

Constable, wat in Hangbos, Laaiplek, gebore is, word deur sy familie beskryf as “ ’n Weskuskind in murg en been”.

“As ons hom in drie woorde kon beskryf, sou dit kleurvol, klassiek en ­outentiek wees,” het die familie gesê. “Hy was ‘n woordkunstenaar wat enige storie tot op die tiekie kon vertel. Hy het mense laat lag, atmosfeer geskep en oral waar hy gekom het, vreugde gebring.”

Musiek was een van sy grootste passies en hy was ‘n toegewyde Elvis Presley-aanhanger. Op hoërskool het hy saam met vriende die groep Live Wire gestig, waar hy volgens sy familie “die hooftrekpleister” was en reeds sy liefde vir vermaak en optrede uitgeleef het.

As onderwyser het Constable diep spore getrap – veral by St Augustine Primêr in Paternoster, waar hy die grootste deel van sy loopbaan deurgebring het. Hy het nie net die skoollied geskryf nie, maar ook ‘n opheffingsprogram vir Duitse besoekers geïnisieer, wat ‘n betekenisvolle bydrae tot die skoolgemeenskap gelewer het.

Sy familie beskryf hom ook as ‘n bron van kennis. “Jesse was ons Google vóór Google. Sy algemene kennis was ongelooflik en hy het elke dag- en naweek­koerant verslind.”

Bo alles onthou hulle hom as ‘n toegewyde gesinsman. “Sy vrou, ­Zephia, en hul twee kinders, Brandon en ­Zenith, was sy hele lewe. Hy het ook ‘n kampvegter geword vir kinders met spesiale behoeftes.” Die familie sê sy afsterwe laat ‘n groot leemte. “Die Weskus is inderdaad ‘n armer plek sonder hierdie bruisende persoonlikheid.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 23 July 2026
    Weslander E-Edition – 23 July 2026

Gift this article