Gemeenskap van Laingville rou oor bekende se dood


Die gemeenskap van Laingville is in rou gedompel ná die dood van Japie Alexander (68).

Welbekend in die gemeenskap is Alexander in die vroeë oggendure van Woensdag 29 April oorlede.

Volgens die familie het Alexander sy hand met ‘n snoekgraat seergemaak en het dit erg begin sweer. Met antibiotika voorgeskryf het die hand steeds nie genees nie en hy is mettertyd hospitaal toe.

Die infeksie het deur sy liggaam versprei, wat tot sy skielike dood gelei het.

Die familie beskryf hom as ‘n hulpvaardige mens wat altyd ondersteuning gebied het.

Sy seun Riaan Alexander meen sy pa was nie net daar vir die familie nie, maar het ook sy gemeenskap bygestaan. Alexander was immers meer as 50 jaar in die politiek betrokke.

Hy was ook betrokke by die St. Helenabaai-dorpbestuursraad in die 70’s asook in die uitbreiding van Laingville. Philip Duiker bevestig Japie Alexander was die jongste in die raad saam met hulle onder leiding van die burgemeester, Willem Mouton.

Van omstreeks 1972 tot in die 80’s was hy as lid van die bestuursraad by die uitbreiding van Laingville betrokke.

Daarna raak hy lid van die Nasionale Party, Demokratiese Alliansie, Good en tot die einde die Patriotic Alliance.

“Ons gaan die gesinsuitstappies en byeenkomste wat hy gereël het baie mis. Ons het grootgeword met my pa wat ‘n woonwa besit het, so ons het altyd gaan kamp tydens die skoolvakansies.

“My pa was lief vir sy ou musiek met ‘n vleisie op die vuur en ook lief daar- voor om te sing. In sy jonger dae was hy ‘n lid van die mannekoor.”

Hy word beskryf as ‘n staatmaker, een wat uit sy pad uit gegaan het vir ander met ‘n liefde vir die lewe.

Alexander laat sy drie kinders en drie kleinkinders agter.

Die begrafnis vind op Saterdag 9 Mei plaas. Die huisdiens om 08:00 is by Dahliastraat 14, Laingville, en die kerkdiens om 09:00 in die St John’s Anglikaanse kerk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 7 May 2026
    Weslander E-Edition – 7 May 2026

Gift this article