‘n Familie is gebroke ná die onverwagte dood van twee susters in ‘n motorongeluk.
Die ongeluk het verlede Vrydag (24 Julie) tussen 18:40 en 19:00 in St. Helenabaai plaasgevind. Anneleen Mostert en Roelene Erasmus is albei as gevolg van die botsing oorlede.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het Mawande Striga (47) van Laingville ná die twee vroue se dood die afgelope Maandag in die hof verskyn op aanklagte van strafbare manslag en dwarsboming van die gereg.
Helfrich sê Striga het na bewering teen die voertuig waarin die susters gery het gebots en daarna van die toneel weggejaag.
Sy het bevestig dat Mostert op die toneel in Hoofstraat dood verklaar is, terwyl Erasmus later in die hospitaal aan haar beserings beswyk het.
Volgens Mostert se man, Kobus Mostert, het hy vroeër die Vrydag nog met sy vrou gepraat. Sy het hom net ná 18:00 laat weet dat sy die Sandy Point-padstal, waarvan sy die eienaar was, sou sluit, daarna SPAR toe sou gaan, Vredenburg toe sou ry om inkopies te doen en dan huis toe sou kom.
“SPAR maak eers 20:00 toe, so ek was aanvanklik nie bekommerd toe ek niks van haar hoor nie. Soos die tyd aangegaan het, het ek onrustig geraak. My boodskappe het deurgegaan, maar sy het nie geantwoord nie. Almal het haar probeer bel, maar sonder sukses. Ons het die polisie gebel en hulle het gesê daar was ‘n ongeluk. Hulle kon geen verdere besonderhede gee nie.”
Volgens Kobus het hy toe vermoed dat sy vrou by die ongeluk betrokke sou kon wees. Hy glo die botsing moes kort ná hul laaste gesprek plaasgevind het.
“Ek was heeltemal deurmekaar toe ek die nuus hoor . Sy was my alles en het alles vir my gedoen. Die winkel maak gewoonlik 17:00 op ‘n Vrydag toe. Die dag van die ongeluk het hulle besluit om later oop te bly.”
Hy wonder dikwels of die tragedie dalk voorkom kon word as die winkel op die gewone tyd gesluit het, maar glo ook dat elke mens sy tyd het. “Ek gaan alles van haar mis – al die liefde wat sy gegee het. Sy was my regterhand, my beste vriend en my vrou. Ek gaan haar vreeslik mis.”
Roelene se man, ‘n emosionele Derik Erasmus, sê daar is ‘n leemte in sy lewe wat hy nie kan beskryf nie. “Ek mis haar verskriklik. Sy was ‘n baie goeie mens. Ek kan steeds nie aanvaar dat sy oorlede is nie; my hart is te seer.”
Aletta Kleynhans, ‘n inwoner van St. Helenabaai wat albei susters geken het, het Anneleen en Roelene as twee besonderse mense onthou wat altyd ‘n verskil in ander se lewe gemaak het. “Anneleen het ‘n hart van goud gehad. Sy was altyd vriendelik en bereid om te help,” sê Kleynhans.
Oor Roelene, wat as “Koekie” bekendgestaan het, sê sy: “Sy het altyd geglimlag en ons het gereeld gegrap oor hoe klein sy agter die biltongkas gelyk het. Ek sal hulle albei verskriklik baie mis. Dit voel steeds onwerklik en dit was ‘n geweldige skok om die nuus te hoor.”
Kleynhans vertrou die Here sal hulle deur hierdie moeilike tyd dra.


