SALDANHA – Elf buitelanders is Saterdag (25 Julie) naby die hawe in hegtenis geneem in verband met die beweerde her-etikettering van huishoudelike kos- en medisinale produkte.

Kapt. Tania Helfrich, die distriks­woord­voerder vir die Weskus-polisie, het die inhegtenisnemings bevestig.

Die verdagtes – tussen 23 en 36 jaar oud, het Maandag (27 Julie) in die Vredenburg-landdroshof op aanklagte van onder meer bedrog verskyn.

Mohamad Naeem, Mussah Winson, Wizy Alli, Rajabu Muli, James Ahobi, Yassine Osiman, Zolesan Hassan, River Chimwemwe, Bakali Palisan en Bedza Ibahume is eerste by die gebou in Kreefstraat in hegtenis geneem.

Jehad Hassen Bosiye het van die lede van die seegrenseenheid probeer wegkom deur in ‘n bakkie te spring, maar hy is vasgekeer.

Die polisie en verskeie staatsinstellings, waaronder die departement van gesondheid en die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte ondersoek die her-etikettering van ‘n groot verskeidenheid produkte.

Helfrich het intussen gewaarsku teen vals inligting wat op sosiale media versprei word. Sy het ook die gemeenskap gemaan om nie ongegronde bewerings oor mense of ondernemings te versprei nie.

Die eienaar van King’s Bar is onder meer in ‘n boodskap wat op sosiale media versprei is by die voorval betrek. Volgens Helfrich is dié bewering ongegrond.

“Verskeie eenhede van die polisie en regering is besig met die ondersoek na die her-etikettering van goedere. Namate inligting bekend word, sal dit deurgegee word, maar die ondersoek is in ‘n sensitiewe stadium,” het sy gesê.

Die hofsaak is tot Vrydag 31 Julie uitgestel sodat die staat die beskuldigdes se borgtogprofiel en immigrasiestatus kan verifieer.

Die beskuldigdes word aangehou.

Nog inhegtenisnemings kan nie uitgesluit word nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 July 2026
    Weslander E-Edition – 30 July 2026

Gift this article