SALDANHA – Die Wes-Kaapse teenontvoeringstaakspan het Maandagaand (1 Junie) ‘n 51-jarige sakeman in Diazville, Saldanha, gered nadat hy verlede week tydens ‘n gewapende roof in Summer Greens, Kaapstad, ontvoer is.
Volgens die polisiewoordvoerder brig. Novela Potelwa het die ondersoek die taakspan eers na Khayelitsha gelei, waar vyf verdagtes in hegtenis geneem is. Verdere inligting het ondersoekers daarna na twee huise in Diazville geneem, waar nog mense aangekeer en die ontvoerde gevind is. Die man was volgens die polisie vasgebind en het beserings gehad wat vermoedelik deur marteling veroorsaak is.
Hy is vir mediese behandeling geneem.
Altesaam nege verdagtes, sewe mans en twee vroue tussen 20 en 50 jaar oud, is in verband met die saak in hegtenis geneem. Hulle verskyn na verwagting op aanklagte van onder meer roof, ontvoering en afpersing in die hof.
Die ondersoek duur voort en Weslander se susterskoerant City Vision werk tans aan ‘n opvolgberig oor die ontvoering en die man se redding.





