• Noodlottige botsing: Mikaela Martin (29) het Saterdag 25 Julie gesterf nadat die VW Polo waarin sy gery het op die Darling-Malmesbury-pad (R325) teen ‘n vragmotor gebots het.
• Moord: Zanile Yanta (36) het Maandag 27 Julie in die Vredendal-landdroshof verskyn nadat sy Saterdagaand na bewering Akhona Makroko (19) met ‘n mes in die nek en kop gesteek het. Makroko is op die toneel in Vredendal-Noord dood.
• Poging tot moord: ‘n 44-jarige man is Saterdagaand 25 Julie in Sagittastraat, Diazville, Saldanha, raakgeskiet.
• Openbare geweld: Drie tieners, 18, 14 en 13 jaar oud, is Saterdagaand 26 Julie in Fred Louwstraat, Louwville, aangekeer nadat hulle na bewering klippe na huise gegooi en vensters beskadig het. Hulle het Maandag in die hof verskyn.
• Moord en poging tot moord: ‘n Man bekend as Paskwali is Vrydagaand 17 Julie in Frigatestraat, Diazville, doodgeskiet en ‘n 36-jarige man is in dieselfde voorval gewond.
• Aanranding met die doel om ernstig te beseer: Nielon Samuels (39) van Noordhoek, Laaiplek, het Maandag 20 Julie in die hof verskyn nadat hy die vorige Vrydagaand na bewering ‘n 36-jarige vrou met ‘n mes aangeval het.
• Roekelose en nalatige bestuur: ‘n Sesjarige dogtertjie is Vrydagoggend 17 Julie in Mikastraat, Ongegund, Vredenburg, deur ‘n taxi omgery. Sy het mediese behandeling ontvang.
• Roekelose en nalatige bestuur: ‘n Voertuig het Sondagoggend 19 Julie omstreeks 02:00 ‘n sekuriteitsvoertuig in Port Owenrylaan, Laaiplek, gestamp en weggejaag.
• Diefstal: Drie tieners, 16, 17 en 18 jaar oud, is Vrydagoggend 17 Julie by ‘n drankwinkel in die Mall voorgekeer nadat hulle na bewering ‘n bottel Gordon’s London Dry Gin probeer steel het.
• Diefstal: ‘n Man het Saterdagaand 18 Julie by die St Helenabaai-hotel om hulp gaan vra en na be-
wering in die proses ‘n flitslig ter waarde van
R1 000 gesteel.
• Diefstal: Sowat R200 000 se kabels is verlede naweek by die PPC-fabriek in Piketberg gesteel.
• Bedrog: ‘n Verdagte het homself glo as ‘n bankamptenaar voorgedoen en nagenoeg R50 000 uit ‘n 80-jarige vrou se bankrekening gesteel.
• Sakeroof: Twee gemaskerde mans het Vrydagaand 17 Julie omstreeks 20:20 ‘n winkel in Wilgerstraat, Witteklip, Vredenburg, beroof. Hulle het meer as R5 000 kontant, sigarette en ‘n selfoon gebuit.
• Huisroof: ‘n 33-jarige Malawiese vrou en ‘n familielid is Vrydagaand 17 Julie in ‘n woning in Kerkstraat, Vredenburg, deur ‘n gewapende man oorval. Die rower het met R200 gevlug.
• Diefstal: ‘n 71-jarige man van Langebaan is weer aangekeer vir diefstal. Hy is Saterdag 18 Julie opgemerk toe hy ‘n avokadopeer vat en by die winkel uitloop. ‘n Vorige keer het hy vir hom tee gevat.





