Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy versprei­dingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n Weskus-­polisiewoordvoerder. Dié gebeure het tussen Vrydag 4 September en Maandag 7 September plaasgevind.

Moord

Die lewelose liggaam van Jacobus Engelbrecht (62) is Sondag 6 September omstreeks 00:25 voor ‘n huis se deur in Conniffe-Januarystraat, Riebeek-­Wes, gevind. Hy is na bewering met ‘n mes in die bors gesteek.

Mojalefa Tsolo (26) is Sondag 6 September omstreeks 02:20 in Cederbergstraat, Riebeek-Wes, dood gevind nadat hy met ‘n mes gesteek is.

Jonathan Bokster (45) se lewelose liggaam is Saterdag 5 September omstreeks 02:30 in Bloekombosstraat, Abbotsdale, Malmesbury, gevind.

Khuthala Jack (34) se liggaam is Vrydag 4 September omstreeks 23:45 buite ‘n hokkie in Ongegund, Vredenburg, gevind. Die omstandighede rakende sy dood word ondersoek.

Poging tot moord

Thabo Ngongo (27) het Maandag op ‘n aanklag van poging tot moord in die hof verskyn nadat hy Saterdag 5 September ‘n 21-jarige vrou na bewering met ‘n mes in die nek en bors gesteek het. Die voorval het glo ontstaan toe Ngongo met sy meisie baklei het en die jong vrou hom probeer keer het.

Die omstandighede rakende ‘n poging-tot-moord-saak in Arriestraat, Saldanha, word ondersoek. ‘n 25-jarige slagoffer is Saterdag 5 September in die regtervoorarm en been geskiet. Die aanvaller is met ‘n mes in die kop, hand en rug gesteek.

’n 28-jarige man is Sondag 6 September omstreeks 02:00 in Tafelbergstraat, Riebeek-Wes, deur ‘n groep mans met ‘n mes aangeval. Hy het beserings aan albei kante van sy nek, sy kop en een arm opgedoen.

Roof

’n 41-jarige man is Saterdag 5 September omstreeks 23:15 op pad huis toe van ‘n winkel af in Graafwater deur drie mans aangeval en beroof. Hulle het na bewering met ‘n mes gedreig en sy R85 en selfoon afgeneem. Hy is ook met die vuis in die gesig geslaan, geskop en met kettings aangerand.

Michelle Dirks (23) en Deyllin Swarts (28) het Maandag in die Porterville-landdroshof op aanklag van huisroof verskyn. ‘n 66-jarige vrou het Vrydag 4 September omstreeks 05:00 geluide in haar kombuis gehoor. Sy is van agter aangeval, vasgebind en haar mond is toegeplak. Die rowers het met juwele ter waarde van R5 000, ‘n selfoon en geld gevlug.

Dee-Jay de Bruin (20) en Sulyman Appolis (18) het Maandag in die Citrusdal-hof verskyn nadat hulle en twee makkers Vrydag 4 September ‘n winkel in Riverview binnegegaan en die 35-jarige eienaar met messe en pangas gedreig het. Hulle het glo met net ‘n 1,5-liter-bottel koeldrank gevlug.

Vier mans het Vrydag 4 September omstreeks 19:45 ‘n winkel in Holomisastraat, Ilinge Lethu, Malmesbury, betree. Twee was met vuurwapens gewapen. Die 46-jarige winkeleienaar is gedwing om op die grond te lê. Die rowers het met R5 000 en twee selfone gevlug.

Aanranding

Malvin Krotz (36) het Maandag in die hof verskyn nadat hy Vrydag 4 September na bewering sy 41-jarige meisie met ‘n glas in Laaiplek aangerand het. Die voorval was glo nadat sy hom konfronteer het omdat hy haar seun geslaan het.

Omkopery

’n 39-jarige Etiopiese man het ‘n klagte van omkopery aangemeld nadat twee mans hom Saterdagaand en Sondagoggend by sy winkel in Witteklip, Vredenburg, na bewering gedreig het om beskermingsgeld te betaal. Die klaer het geweier en die polisie ontbied. Een van die verdagtes, Feza Titi (38), is vasgetrek en het Dinsdag in die hof verskyn.

Geregtelike doodsondersoek

Die lyk van ‘n onbekende man is Vrydag 4 September omstreeks 12:40 in ‘n veld langs die Darling-pad, Malmesbury, gevind.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 September 2026
    Weslander E-Edition – 10 September 2026

Gift this article