Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoord-

voerder van die Weskus-polisie. Die oortredings het tussen Vrydag en Sondag, 21-23 Augustus, plaasgevind:

Moord: Graig Boois (26) se lewelose liggaam is Vrydagoggend omstreeks 06:35 in Cogstraat, Saldanha, gevind. Hy is in die rug geskiet en dit blyk dat hy op pad huis toe was nadat hy geskiet is.

Moord: Lionel Kemp (57) is Vrydagaand omstreeks 20:45 met meswonde in Langstertjiestraat, Witteklip, Vredenburg, gevind. Hy het ook ‘n wond aan sy mond gehad en is op die toneel oorlede. Leiton Rooi (25), Jayden Pietersen (19) en Durian de Kock (18) is in hegtenis geneem.

Moord: Antonio Shichongue (22) is Vrydagaand omstreeks 21:00 op die hoek van Nacardienstraat, Witteklip, Vredenburg, met ‘n mes gesteek. Hy het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk. Hy het meswonde aan albei kante van sy nek gehad. Drie verdagtes het Maandag in die hof verskyn.

Moord: Bruni Maseko (34) van Tsitsiratsitsi is Son

dagoggend omstreeks 03:00 doodgeskiet. Hy het ‘n klop aan die deur gehoor en dit oopgemaak. Volgens sy meisie het sy net ‘n skoot gehoor, waarna Maseko op die bank geval en gesterf het.

Poging tot moord: ‘n 17-jarige is in Malmesbury in hegtenis geneem nadat hy en sy makkers Saterdagaand twee mense in Rivierstraat, Kalbaskraal, geskiet het. Sy makkers het gevlug. Die 17-jarige het Maandag in die hof verskyn.

Besigheidsroof: ‘n Man wat aan ‘n 36-jarige winkelwerknemer bekend is, het Saterdagaand omstreeks 22:00 oor die deur van ‘n winkel in Coetzeestraat, Lambertsbaai, gespring en sowat R6 000 kontant en 20 pakkies sigarette gesteel. Hy het by sy ma se huis gaan wegkruip. Vyf mense is in hegtenis geneem omdat hulle glo die polisie probeer verhinder het om hom vas te trek. Die rower is steeds op vrye voet.

Huisroof: Drie gemaskerde mans het Saterdagaand ‘n gastehuis op ‘n plaas in die Clanwilliam-omgewing binnegedring. Vier gaste is met ‘n vuurwapen gedreig en vasgebind. Selfone, juwele en handsakke is gesteel. Een man is met ‘n byl oor die skouer en knie gekap. Verdagtes is glo aangekeer, maar is nog nie aangekla nie.

Huisroof: ‘n 16-jarige is in hegtenis geneem ná ‘n huisroof Sondagoggend in Tuinstraat, Moorreesburg. Die 77-jarige inwoner was alleen tuis toe die verdagte hom met die vuis geslaan, sy selfoon gesteel en hom in die badkamer toegesluit het. ‘n Musiekstelsel is ook gesteel. Die verdagte het Maandag in die hof verskyn.

Huisroof: ‘n 30-jarige man is Vrydagoggend omstreeks 03:00 in sy huis in Malmesbury oorval. Twee gemaskerde mans het hom aangeval en onder meer ‘n gasbottel, selfoon, stoof, spieël en klere gesteel.

Strafbare manslag: David Present (52) is Sondagaand omstreeks 19:00 op die R366 tussen Piketberg en Redelinghuys oorlede ná ‘n botsing reg van voor tussen sy Toyota Hilux en ‘n VW Polo. Verskeie beseerdes word in hospitale behandel.

Tref-en-trap: Abraham Bannies (42) se lewelose liggaam is Sondagoggend op die R365 Silver Dale-pad, Porterville, gevind. ‘n Wit VW Polo met skade aan die voorkant is sowat 500 meter van die liggaam gevind.

Verdrinking: ‘n 10-jarige seun het Saterdag op ‘n plaas in Citrusdal verdrink. Sy liggaam is deur die polisie se duikafdeling gevind.

Opsetlike saakbeskadiging: Magdalena Tani (43) het Maandag in die hof verskyn nadat sy na bewering Saterdagmiddag ‘n voertuig in haar omgewing aan die brand gesteek het.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 August 2026
    Weslander E-Edition – 27 August 2026

Gift this article