Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie:
Diefstal: ‘n Sonkraglig van amper R400 is die afgelope Saterdagoggend (10 Oktober) in ‘n 38-jarige vrou se besit gevind nadat sy dit na bewering in ‘n straat in Doringbaai afgebreek het. Sy sal in November in die hof verskyn.
Aanranding van polisiebeampte: Colin Ruiters (47) het Maandag (12 Oktober) in die hof verskyn nadat hy glo Vrydagaand (9 Oktober) ‘n vrouekonstabel in Peperstraat in Graafwater gewurg en haar verhinder het om haar werk te doen.
Bedrog oor foon: ‘n Vrou van Saldanha het die afgelope naweek ‘n oproep ontvang van die sogenaamde bedrogafdeling van ‘n bekende klerewinkel, wat haar meegedeel het iemand het ‘n bestelling van Amazon op haar rekening gedoen. Sy het op haar bank-app gegaan en die instruksies gevolg wat aan haar gegee is, net om later uit te vind dat die inbeller R23 627 uit haar rekening getrek het.
Aanranding: ‘n 17-jarige meisie van Lambertsbaai het Saterdagmiddag (10 Oktober) die verdagte aangesê om die wyn wat hy gesteel het, terug te besorg. Die man was egter nie daarvoor te vinde nie en het die meisie begin vloek en haar met ‘n klip raakgegooi en weggehardloop. Hy is later aangekeer.
Veediefstal: ‘n Isuzu-bakkie en vyf onbekende mans op perde is Vrydagaand (9 Oktober) op ‘n plaas in die Darling-omgewing opgemerk. Saterdagoggend is vasgestel bokke met ‘n geskatte waarde van R42 000 is van die plaas af gesteel.
Raakgery: ‘n 33-jarige man van Citrusdal is Sondagoggend (11 Oktober) omstreeks 02:00 deur ‘n minibus-taxi in Nelson Mandelastraat in Riverview omgery. Die taxi het egter weggejaag.
Strafbare manslag: Die omstandighede rakende ‘n voorval op Saterdagoggend (10 Oktober) omstreeks 04:40 waarin Darryl Rooi (32) in ‘n motorongeluk naby Clanwilliam oorlede is, word ondersoek. Rooi en nog iemand – albei van Saldanha – het vir ‘n vriend gaan kuier en was van Clanwilliam na Lambertsbaai op pad toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het. Die voertuig het aan die anderkant van die pad tot stilstand gekom. Die tweede insittende van die voertuig ontvang tans mediese behandeling.
Strafbare manslag: ‘n Man, wat Saterdag (10 Oktober) omstreeks 22:15 op die Riebeek-Kasteel-pad doodgery is, is nog nie uitgeken nie. Hy het geen identifikasie by hom gehad nie. Volgens die polisie het die voertuig wat hom raakgery het, van die toneel af weggejaag.
Doodsondersoek: Die lewelose liggaam van Michael-John Beattie (30) is Saterdagoggend omstreeks 01:20 etlike meter van sy voertuig af op die R45-Malmesburypad aangetref. Die omstandighede rakende die ongeluk word ondersoek.
Poging tot moord: Verskeie skote is verlede Woensdagaand (7 Oktober) op ‘n 44-jarige man se huis in Vraagomstraat, Saldanha, afgevuur. Die man is in sy regterarm gewond.
Poging tot moord: ‘n Vragmotorbestuurder van 40 jaar oud het verlede Woensdag (7 Oktober) omstreeks 17:50 in Bloekomstraat, Lutzville, stilgehou en uitgeklim omdat hy na die winkel wou gaan. ‘n Groep aanvallers het op hom toegesak en hom met messe begin steek en van sy selfoon beroof. Die klaer was vir vier dae weens sy wonde in die hospitaal.
Poging tot moord: Twee mans is die afgelope Vrydagaand (9 Oktober) in Antoniostraat, Saldanha, geskiet. Albei het behandeling vir hul wonde gekry. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Poging tot moord: ‘n 27-jarige man is Saterdagaand (10 Oktober) in Basil Februarystraat in Diazville, Saldanha, aangeval. Hy het ‘n meswond aan die kop en drie meswonde aan die rug opgedoen. Die slagoffer het blykbaar in die straat geloop toe iemand hom begin aanval en later weggehardloop het.
Moord: Keano Classen (27) het Saterdagaand (10 Oktober) by ‘n erf in Rooihalsstraat in Witteklip ingehardloop om van ‘n aanvaller af te vlug. Hy het daar aan wonde wat hy opgedoen het, beswyk. Justin Mitchell (21) het Maandag 12 Oktober in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Veediefstal: Bradley Lewis (36) en Cole Gericke (26) is Vrydagoggend (9 Oktober) aangekeer nadat hulle glo probeer het om twee skape op ‘n plaas in die Malmesbury-omgewing te verkoop. Die twee skape is onder dié wat vroeër die dag in Atlantis in ‘n rooftog gebuit is. Die skaapwagter is gedreig en vasgebind, waarna die rowers met die skape weg is. Hulle het op hul pad probeer om van die skape te verkoop, waar hulle in hegtenis geneem is.
Aiden Koordom (26) van Lutzville het Maandag in die hof verskyn nadat hy glo Saterdagaand (10 Oktober) twee Engen-produkte in Du Toitstaat probeer steel het. Hy en ‘n vriend het op die sypaadjie gesit waar die produkte in sy besit gevind is. Hy kon nie bewys van betaling toon nie.
LEES OOK: Bejaarde buite Yzerfontein beroof





