Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie.
Moord: In Langebaan was Clarence Pietersen (30) Vrydagaand (28 Augustus) in Vygiestraat in ‘n stryery met sy moordenaar betrokke. Die aanvaller het Pietersen doodgeskiet. (Sien berig langsaan.)
Strafbare manslag: In Clanwilliam is Ernest Kotze (4) en Delano Meyer (7) van Graafwater Saterdag 29 Augustus omstreeks 13:50 op die R364 tussen Clanwilliam en Graafwater dood verklaar nadat twee voertuie gebots het. Die omstandighede rakende die botsing word ondersoek.
Poging tot moord: In Darling is ‘n 26-jarige man Saterdagaand (29 Augustus) in 14de Laan met ‘n mes aangeval. Die slagoffer ontvang mediese behandeling vir ‘n lang meswond aan die linkerkant van sy gesig en ‘n steekwond in die onderste deel van sy rug.
Geregtelike doodsondersoek: In Malmesbury is ‘n geregtelike doodsondersoek geloods nadat Gabriel Booysen (17) van Saamstaan Sondagoggend (30 Augustus) omstreeks 01:10 verkool is.
Aanranding met die doel om ernstig te beseer: In Klawer het Nasiphi Beje (35) Maandag 31 Augustus in die hof verskyn nadat sy Saterdag omstreeks middernag ‘n 43-jarige vrou, wat in haar huis geslaap het, na bewering aangerand het. Die vrou is wakker geklop en toe sy die deur oopmaak, het Beje haar na bewering met die vuis in die gesig geslaan. Die slagoffer moes mediese behandeling ontvang.
Aanranding: In Klawer het Patrovsky Adams (21) Maandag in die hof verskyn nadat hy na bewering sy 19-jarige meisie die afgelope naweek aangerand het. Sy het kneusmerke aan haar gesig opgedoen.
Aanranding en aanval op polisielid: In Eendekuil het Lean Fortuin (28) Maandag (31 Augustus) in die hof verskyn nadat hy Sondagoggend na bewering amok gemaak het. Fortuin het omstreeks 08:45 in Dahliastraat sy 64-jarige tannie glo met die vuis in die gesig geslaan. Hy was daarna oproerig in die straat en het volgens die polisie ‘n polisiebeampte gegryp en hom teen ‘n polisievoertuig vasgedruk.
Aanranding: In Langebaan het ‘n 38-jarige man Vrydagoggend (28 Augustus) omstreeks 06:00 ‘n saak van aanranding aangemeld nadat hy langs die straat geslaap het. Hy het wakker geword toe ‘n ander man hom vra wie hy is en waarna dié hom volgens die klaer geskop en met ‘n koppie geslaan het. Die klaer het daarna gevlug.




