CLANWILLIAM – ‘n Man is tot effektief 25 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy ‘n vrou in 2023 in haar huis Clanwilliam oorval en verkrag het waar sy geslaap het.
Roderick van Rooi (35) is voorverlede Donderdag (13 Augustus) in die Clanwilliam-streekhof vir huisbraak en verkragting gevonnis. Die misdaad het op 21 Mei 2023 plaasgevind.
Volgens die polisie was die klaer, wat nou 44 jaar oud is, aan die slaap toe sy wakker geword en gevoel het iemand trek haar klere uit. Van Rooi het haar daarna verkrag.
Die hof het Van Rooi tot vyf jaar gevangenisstraf vir huisbraak en 20 jaar gevangenisstraf vir verkragting gevonnis.
Adjudant- offisier Theo Maarman was die ondersoekbeampte in die saak. Van Rooi is egter nie ‘n eerste oortreder nie. Hy is in 2020 skuldig bevind aan opsetlike saakbeskadiging en is ook op 16-jarige ouderdom in Clanwilliam vir veediefstal in hegtenis geneem en skuldig bevind.




