Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
• Moord: Hester Engelbrecht (44) het na bewering Freddie Ocks (47) Sondagaand 2 Augustus ná ‘n stryery in Langebaan met ‘n mes in die nek gesteek. Ocks is op die toneel in Valkstraat, Seaviewpark, oorlede. Engelbrecht, wat al voorheen aan moord skuldig bevind is, het van die toneel af gevlug, maar is later vasgetrek. Sy het Dinsdag weer in die Hopefield-landdroshof verskyn. Sy is in 2016 skuldig bevind van die moord op Dirk Dirks (33). Engelbrecht het hom op 15 September daardie jaar met ‘n mes in die regterbors gesteek. Sy is ses jaar gevangenisstraf opgelê, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is.
• Moord: Die verkoolde lyk van ‘n onbekende man is Sondagoggend (2 Augustus) in ‘n oop stuk veld in Perronstraat, Vredenburg, gevind.
• Poging tot moord: Volgens ‘n 29-jarige man het hy twee mans Saterdagoggend 1 Augustus net na 03:00 in Skoolstraat, Hopefield, teëgekom. Hulle het hom uitgevra oor ‘n byl, waarop een hom vasgehou het terwyl die ander een hom met ‘n panga in die gesig geslaan het.
• Poging tot moord: Willem van Wyk (41) het Dinsdag 4 Augustus in die Hopefield-landdroshof verskyn nadat hy Saterdagoggend (1 Augustus) omstreeks 00:30 ‘n 55-jarige vrou en ‘n 50-jarige man met ‘n mes bygedam het. Toe die polisie op die toneel op ‘n plaas in die omgewing kom, is Van Wyk met die mes van sowat 21cm lank as die aanvaller uitgewys.
• Strafbare manslag: Ethan Zimri (25) van Clanwilliam het Sondagoggend (2 Augustus) omstreeks 03:20 naby Graafwater vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor. Hy en sy passasiers was van Lambertsbaai af onderweg op die R364. Zimri is op die toneel oorlede en ‘n passasier het kop- en borsbeserings opgedoen.
• Strafbare manslag: Saterdagaand (1 Augustus) om 21:45 is ‘n man, van wie slegs sy voornaam bekend is, op die N7 by Clanwilliam doodgery. Na bewering was die oorledene en ‘n vriend besig om hul voertuig te stoot. Dit het sonder petrol gaan staan en hulle nie die voertuig se ligte aangesit nie. ‘n Aankomende voertuig het hulle te laat gesien en die oorledene getref. Hy is op die toneel oorlede.
• Verdrinking: Die lewelose liggaam van Simamkhele Ndincede (21) is Sondagmiddag (2 Augustus) naby Piketberg uit die Bergrivier gehaal.
• Doodsondersoek: ‘n Geregtelike doodsondersoek is geregistreer nadat Marlene van Onselen (40) Vrydagoggend (31 Julie) omstreeks 10:30 van ‘n krans langs die Matjiesrivier afgeval het.
• Brandstigting: Siyabonga Ntobane (41) is aangekeer nadat hy Saterdagoggend (1 Augustus) om 06:00 sy 29-jarige meisie se hokkie in Greenfieldstraat in Ongegund aan die brand gesteek het. Sy hofverskyning was Maandag.
• Winkeldiefstal: ‘n 33-jarige vrou van Khayelitsha, Kaapstad, wou Saterdagmiddag (1 Augustus) al die kondome van ‘n spesifieke handelsnaam ter waarde van R2 640 by ‘n bekende kettingwinkel op Vredenburg steel. Die sekuriteit is ingeroep en sy is betrap toe sy weer die kondome terugpak.
• Betreding: Brondwin Titus (18) is Vrydagmiddag (31 Julie) in ‘n kettingwinkel in Porterville se stoorkamer betrap. Titus moes oor die muur klim om in die stoorkamer te kom en kon geen verduideliking gee oor wat hy daar maak nie.
• Veediefstal: ‘n Bul ter waarde van R62 500 is tussen Donderdag en Vrydag 30 en 31 Julie op ‘n plaas in die Riebeek-Wes-omgewing gesteel en geslag. Net die bul se vel en ore is op die toneel gevind.
• Veediefstal: Drie skape ter waarde van R9 000 is verlede week op ‘n plaas in die Vredenburg-omgewing gesteel.
• Veediefstal: Een skaap is tussen Woensdag en Donderdag, 29-30 Julie, op ‘n plaas in die Vanrhynsdorp-omgewing gesteel.





