Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
Moord: Op Saterdag 24 Oktober omstreeks 16:30 is die polisie in Betterlife in Ongegund, Vredenburg, voorgekeer en van ‘n skietery vertel. Die polisie het ondersoek gaan instel en in sy hokkie op Awonke Menziwa (46) se liggaam met skietwonde afgekom.
Op Maandagoggend 26 Oktober net voor 10:00 is die lyk van Sizwe Mamkeli (64) in ‘n veld naby Masiphatisane Primêr in Witteklip, Vredenburg, gevind. Die oorledene is op Sondag 25 Oktober laas gesien toe hy saam met vriende gekuier het. Mamkeli het veelvul- dige skietwonde aan sy kop gehad, maar het nog sy sleutels en sy beursie by hom gehad.
Luthando Jim (40) het Dinsdag 27 Oktober in die Malmesbury-landdroshof verskyn op aanklag van moord op Tankiso Chali (36) op Sondagaand 25 Oktober in Illinge Lethu in Malmesbury. Chali is met ‘n mes gesteek en is op die toneel oorlede.
Doodsondersoek: Die omstandighede rondom George Galandt (38) se dood op Sondagoggend 25 Oktober om 03:00 in Malmesbury word ondersoek.
Poging tot moord: ‘n 60-jarige man was verlede Donderdagaand 22 Oktober omstreeks 23:15 in die bed toe daar skote na sy huis in Winkfieldstraat, Hopland in Saldanha, afgevuur is. Die slagoffer is in sy regterbeen en heup gewond.
Twee jeugdiges van 15 en 16 jaar oud is aangekeer nadat hulle verlede Donderdagaand 22 Oktober omstreeks 19:30 ‘n 21-jarige jong man in Porterville aangerand het. Die slagoffer was op pad na sy meisie toe die twee en ‘n vriend op hom afstorm. Een het hom met ‘n mes begin steek terwyl die ander twee hom met klippe begin gooi het. Die slagoffer het by ‘n erf ingehardloop om hulp te soek. Hy het sewe meswonde opgedoen waarvan een in sy long was. Twee van die drie is aangekeer en hul hofdatum was Dinsdag 27 Oktober.
Aanranding: Op Vrydag 23 Oktober omstreeks 11:45 het ‘n leerder verbonde aan die Laerskool Doringbaai ‘n kind van 13 jaar met ‘n skêr in die kop gesteek. ‘n Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer word ondersoek.
In Saldanha is ‘n 28-jarige juffrou op Maandag 19 Oktober deur ‘n gr. 2-leerder aangerand nadat sy ‘n bakleiery wou stop. Die jongeling het haar in die maag en gesig geslaan.
Aanranding met die doel om ernstig te beseer: Lionel Job (43) het op Donderdag 22 Oktober laatmiddag klaarblyklik sonder rede ‘n 55-jarige medewerker met ‘n mes aangeval. Die plaaswerkers van Graafwater was op pad huis toe toe Job nie van die voertuig wou afklim nie, maar met ‘n mes op die slagoffer afgepeil en hom in sy regterbeen gesteek het. Hy het Maandag 26 Oktober in die Clanwilliam-landdroshof verskyn.
Elizabeth Mohafa (24) van Clanwilliam het Maandag 26 Oktober in die Clanwilliam-landdroshof verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat haar ekskêrel aan sy hand gebyt is. Huisdiefstal: ‘n Inbreker het op Saterdagaand 24 Oktober ‘n bier en ‘n hoenderbraaipak uit ‘n 64-jarige man in Noodhoek, Velddrif, se huis gesteel en gevlug.
LEES OOK: Skietvoorvalle in Saldanha laat 21-jarige swaar gewond, twee mans dood




