GANZEKRAAL – ‘n Pa en sy negejarige seun van Kaapstad is die afgelope Saterdag (24 Oktober) deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Stasie 34 gered nadat hulle op rotse langs die strand vasgekeer en deur die springgety van die vasteland afgesny is.

Volgens Junre Marais, stasiebevelvoerder van NSRI Yzerfontein, is die diensbemanning om 14:30 ontbied nadat die organisasie se noodoperasiesentrum ‘n oproep van familielede ontvang het wat aangemeld het dat die twee gestrand is.

Die 50-jarige pa en sy seun het van die rotse af gehengel. Die rotse was tydens laagwater maklik bereikbaar, maar namate die inkomende gety die water laat styg het, kon hulle nie meer veilig na die vasteland terugkeer nie.

Die NSRI Yzerfontein het hierop gereageer en ‘n reddingsvoertuig met die reddingsboot JetRIB Janine op sleeptou uitgestuur.

Met hul aankoms by Ganzekraal het die bemanning die reddingsboot te water gelaat en na die rotse gevaar waar die pa en seun vasgekeer was.

‘n NSRI-reddingswemmer is by die rotse ontplooi om met die reddingsoperasie te help. Die pa en hul hengeltoerusting is aan boord van die reddingsboot gehelp en veilig na die strand vervoer.

Die reddingsboot het daarna na die rotse teruggekeer, waar die negejarige seun en die reddingswemmer veilig aan wal gebring is. Die operasie het sonder voorval verloop. Nie die pa of sy seun het verdere hulp benodig nie.

Die reddingsboot is om 16:00 uit die water gehaal en die operasie is om 17:00 amptelik afgehandel.

LEES OOK: NSRI red vissers met onklaar boot

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 29 October 2026
    Weslander E-Edition – 29 October 2026

Gift this article