VREDENBURG – Wat die diepste sny, is die wrede geweld waaraan hy blootgestel was, maar ook die feit dat hy ondanks sy ernstige beserings herhaaldelik gesmeek het dat sy aanvallers hom asseblief nie verder moes seermaak nie.
Ten spyte van sy hartverskeurende pleidooi, het Carl Marcus (33) se aanvallers net aanhou steek en kap. Hy het nou gesterf weens die beserings wat hy op Saterdag 25 Julie toegedien is.
Volgens Carl se pa, apostel Karel Marcus, is sy seun omstreeks 23:00 op pad huis toe op die hoek van Vyfde- en Abdolstraat in Louwville aangeval.
Ten spyte van sy ernstige beserings het Carl daarin geslaag om in die rigting van Seeumeeustraat te hardloop, waar hy by mense wat hy geken het, hulp gaan soek het.
Die nuus van die aanval het die Marcus-familie verpletter. “Ek is nie ‘n bang mens nie. Ek is ‘n man van geloof, maar in daardie oomblik was ek net ‘n pa. Jy sal hemel en aarde vir jou kind versit,” vertel Karel met emosie.
Moliena Marcus, Carl se ma, het die dae ná die aanval langs haar seun se hospitaalbed in die Groote Schuur-hospitaal deurgebring. Volgens haar was hy positief oor sy herstel en het geglo hy sou huis toe kom. Sy toestand het egter op Woensdag 29 Julie skielik versleg toe hy oor erge pyn begin kla het. Hy is teater toe geneem vir ‘n operasie, maar het die stryd om sy lewe verloor. Hy is verlede week op Donderdag 30 Julie oorlede.
Te midde van hul onbeskryflike hartseer, sê Karel, die familie is diep geraak deur die liefde, ondersteuning en gebede wat vanuit die gemeenskap ingestroom het. “Dit het ons gedra in ‘n tyd toe ons dit die nodigste gehad het,” vertel hy.
Volgens die familie laat Carl ‘n leemte wat nooit gevul sal kan word nie. Hulle sê hulle verlang na sy hele menswees en onthou hom as ‘n opregte mense-mens, altyd bereid om ander te help en oral ‘n blywende indruk gelaat het.
Vir Carl se vrou, Hannalize Marcus, is die verlies moeilik om te verwerk, veral wanneer sy aan hul kinders dink.
“Dit was vir my ‘n groot skok. Net om aan ons kinders te dink, het dit nog moeiliker gemaak, want ek het nooit verwag dit sou met hom gebeur nie,” sê sy.
Sy sê die gedagte dat Carl nie weer na sy kinders sou terugkeer nie, is onbeskryflik pynlik. “Hoe verduidelik ek aan my seuntjie, sy pa is nie meer saam met ons nie? Ek kon dit nie eens aan my kinders oordra nie. Hulle is nog so klein en moet nou sonder ‘n pa grootword.”
Carl laat sy vrou en hul twee kinders, Chad-lee en Nevaeh Marcus, agter.
Soortgelyke tragedie onthou:
Die tragedie het ook diep weerklank gevind by Norman van Wyk, ‘n gemeenskapsleier en aktivis, wat sy seun in ‘n soortgelyke gewelddadige aanval met ‘n panga, mes en byl verloor het.
Volgens Van Wyk deel hy en Karel nie net die ondenkbare pyn van ouers wie se seuns op ‘n wrede wyse van hulle ontneem is nie, maar ook ‘n jarelange familieband.
“Wat hierdie verlies vir my nog moeiliker maak, is dat ek en apostel Marcus skaars twee weke voor die aanval saam in ‘n gemeenskapsvergadering gesit het, waar ons saam met die polisie, wetstoepassing, die departement van maatskaplike ontwikkeling, die gemeenskapspolisiëringsforum en inwoners, oplossings vir die bendegeweld in die area bespreek het.”
Van Wyk sê die ooreenkomste tussen die twee tragedies is hartverskeurend. “Ons werk daaraan om ons kinders en ons gemeenskap te beskerm, maar intussen word ons eie kinders slagoffers van dieselfde geweld waarteen ons elke dag veg.
“Dit is ‘n pyn wat geen ouer ooit behoort te ervaar nie.”
Hy bid dat die familie die krag sal vind om hierdie ondenkbare verlies te ver- werk.
Die toename in gewelddadige aanvalle met gevaarlike wapens in Vredenburg wek toenemende kommer onder inwoners.
Nóg ‘n voorval het op Saterdag 4 Julie plaasgevind waar ‘n 20-jarige man omstreeks 07:00 na die hospitaal geneem is vir behandeling nadat hy met ‘n mes en panga in Kooitjieskloofstraat aangeval is.
Op dieselfde dag van Carl se aanval is ‘n 21-jarige man omstreeks 01:30 ook met ‘n mes en panga aangeval.
Vir baie inwoners is dié voorvalle ‘n ontstellende teken van die toenemende geweld wat die gemeenskap teister.
Hulle meen die tyd vir praat is verby en eis drastiese stappe om die geweld hok te slaan voordat nog lewens geëis word.





