“Sonder die Here sou ek dit nie gemaak het nie,” sê die bedroefde Patricia Swarts, ma van Xavier Swarts (22), wat onlangs onverwags oorlede is.

Swarts was ‘n rugbyspeler vir die Saldanha Tigers.

Patricia moes verlede Woensdag (24 Junie) die verpletterende nuus van haar seun se dood ontvang terwyl sy kilometers ver van hom af was, en dít slegs ses dae ná sy 22ste verjaarsdag.

Dit was ‘n oomblik wat sy as een van die moeilikste van haar lewe beskryf.

“Daar was nie een oomblik wat ek die werke van die Here bevraagteken het nie. Ek glo as God gevoel het Hy leen Xavier vir my vir 22 jaar, dan behoort hy aan Hom. Ek sê vir die Here: ‘Here, hy is U s’n.’ ”

Sy erken dat die rouproses nog lank gaan duur. “Ek weet dit gaan tyd vat om heel te raak, maar ek berus my by die Here se werk.”

Volgens Patricia het sy en Xavier daardie oggend, soos elke dag, met mekaar gesels. Hulle laaste gesprek het gehandel oor ‘n troupak wat sy vir hom bestel het ter voorbereiding van sy troue later vanjaar.

“Hy het altyd vir my gesê hy mis my. Ons het elke dag gepraat. Hy was opgewonde oor die toekoms.”

Ná ‘n nagskof het Patricia gaan rus. Toe sy wakker word, het sy talle gemiste oproepe en boodskappe op haar selfoon gesien. “Ek het dadelik geweet iets is verkeerd.”

Toe sy haar oudste seun terugbel, is sy meegedeel dat Xavier nie meer leef nie. Dit het ‘n tydjie vir haar geneem om dit in te neem.

Volgens haar het Xavier gekla oor sooibrand ná ‘n rugby-oefening. Hy het gaan lê waarna sy toestand skielik versleg het. Hy is na die hospitaal gehaas, maar hy het nooit weer bygekom nie en is later dood.

Die presiese oorsaak van sy dood is nog nie bevestig nie. ‘n Forensiese ondersoek is aan die gang, hoewel ‘n dokter vermoed het dat hy moontlik ‘n vergrote hart gehad het.

Gordon Swarts, Xavier se pa, het met Weslander gedeel dat ten spyte van die hartseer en pyn ná die afsterwe van sy seun, hy vertroosting vind in die impak wat hy seun gedurende sy lewe op mense gehad het.

Volgens hom was Xavier ‘n sprankelende jong man wat talle mense se lewens aangeraak het. Hy beskryf hom as ‘n geskenk van God aan hul gesin.

“Ons as ouers kan net trots wees om hom terug te stuur na sy Hemelse Vader met die wete dat ons goeie werk as ouers gedoen het,” sê hy, en voeg by dat sy geloof hom deur hierdie moeilike tyd dra en dat hy geen vrae aan God het nie.

“Ons leef nie soos mense wat nie hoop het nie,” sê hy.

Alhoewel Xavier net vir drie weke vir Saldanha Tigers gespeel het, sê Heinrich Koopman, klubvoorsitter, dat Xavier ‘n toegewyde jong speler was. Die nuus van sy sterfte het die span hard getref.

“Hy was ‘n lewenslustige mens en ongelooflik toegewyd aan die span. Een van sy laaste woorde aan kaptein Coetzee was: ‘Kaptein, ek weet ek is nou in die derde span, maar volgende naweek speel ek in die eerste span.’ Hy het daardie selfvertroue gehad en wou altyd sy beste gee.”

◘ Sy se begrafnis vind komende Saterdag (4 Julie) by die AFM Iconnect-kerk in Louwville plaas.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 2 July 2026
    Weslander E-Edition – 2 June 2026

Gift this article