Nuwe kwota bied effense verligting vir Weskus-visfabriekwerkers en bootbemanning

Die Amawandle Pelagic-fabriek in Velddrif.

Nuwe kwota bied effense verligting vir Weskus-visfabriekwerkers en bootbemanning


VELDDRIF – Honderde werkgeleenthede in die Weskus se visbedryf het ‘n hupstoot gekry nadat Willie Aucamp, die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dinsdag 30 Junie ‘n verhoging van die kommersiële sardyn- algehele toelaatbare vangs (TAC) vir gebiede wes van Kaap Agulhas aangekondig het.

Die sardynkwota is met 6 000 ton verhoog – van 30 500 ton na 36 500 ton.

Volgens Aucamp volg die besluit op dringende versoeke uit die kommersiële kleinpelagiese sektor nadat ‘n tekort aan sardyne daartoe gelei het dat verskeie regtehouers reeds hul plaaslike viskwotas uitgeput het en produksie moes afskaal.

Die St. Helenabaai-hawe.  Foto: Basson van Zyl
Die St. Helenabaai-hawe. Foto: Basson van Zyl

Volgens Aucamp het die situasie meer as 1 000 poste direk in die gevaar gestel, terwyl die besluit uiteindelik meer as 5 000 ­bestaansmiddele sal help beskerm. “Hierdie besluit wys dat ekonomiese groei, werkskepping en die beskerming van ons natuurlike hulpbronne hand aan hand kan gaan,” het Aucamp gesê.

Die besluit is geneem nadat die Small Pelagic Scientific-werkgroep ondersoek inge­stel het na die moontlikheid om bykomende sardynkwotas in te stel. Volgens die departement is die verhoging gegrond op wetenskaplike raad en die bepalings van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne.

Vir Velddrif, waar die visbedryf ‘n hoeksteen van die plaaslike ekonomie is, bring die aankondiging groot verligting.

Die DA-raadslede Johan Moolman en Rhime Laubscher sê die afgelope maand se onsekerheid oor die moontlike afskaling of sluiting van ‘n plaaslike fabriek het groot kommer onder inwoners en werknemers veroorsaak. “Hierdie ingryping het Velddrif weggelei van wat ‘n katastrofiese ekono­miese krisis kon geword het,” sê hulle. Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor Aucamp, die Wes-Kaapse premier Alan Winde en die provinsiale minister Anton Bredell vir hul betrokkenheid.

Hoewel die onmiddellike krisis afgeweer is, waarsku die Velddrif-sakekamer die plaaslike ekonomie verkeer steeds onder geweldige druk.

Volgens die sakekamer-voorsitter Johnny da Silva raak enige onsekerheid in die visbedryf meer as net fabriekwerkers. “Wanneer werk in die visbedryf verlore gaan, raak dit gesinne, klein ondernemings, restaurante, skole, diensverskaffers en die hele plaaslike eko­nomie,” sê hy. Hy meen die onlangse uitkoms bewys samewerking tussen die regering, die private sektor en gemeenskappe kan tasbare oplossings lewer. Hy doen egter ‘n beroep dat die fokus nou moet verskuif na langtermyn- ekonomiese groei deur toerisme, plaaslike ondernemings en samewerking verder te versterk.

“Velddrif het nie net simpatie nodig nie. Die dorp het planne, belegging, samewer­king en uitvoering nodig,” sê hy.

Intussen wag mosselfabrieke dat die verbod wat daar tans in die Weskus op die oes van skulpvis is, gelig word sodat hulle werksaamhede ook weer kan aangaan.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 2 July 2026
    Weslander E-Edition – 2 June 2026

Gift this article