Verskeie drywende mossel- en oestervlotte word op die water van Saldanhabaai bedryf. Foto: WWF

Weskus-skulpvis steeds te giftig

Verskeie drywende mossel- en oestervlotte word op die water van Saldanhabaai bedryf. Foto: WWF

Die verbod op die oes en eet van skulpvis in die Saldanhabaai-munisipaliteit en omliggende kusgebiede is steeds van toepassing.

Die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE) het vroeër vandeesmaand ‘n waarskuwing uitgereik en op Maandag (25 Mei) baie hoë vlakke van paralitiese skulpvisgifstowwe (PST) in mossels en oesters van Saldanhabaai-plase opgespoor, met toksienvlakke wat meer as 15 keer die regulatoriese veiligheidsperk oorskry het.

Volgens die DFFE bly die konsentrasies PST in die mossels hoog, naamlik ongeveer 4,7 mg/kg, volgens ‘n monster wat op Donderdag 11 Junie geneem is.

Zolile Nqayi, ‘n woordvoerder van die DFFE, sê as inwoners en besoekers die waarskuwing ignoreer, kan ernstige siekte binne minute tot enkele ure ná inname vinnig intree. “Aanvanklike simptome sluit in tinteling en gevoelloosheid rondom die mond, wat na die arms en bene kan versprei. Dit kan gevolg word deur ­naarheid, braking, duiseligheid en spier-­swakheid. By hoë vlakke van die toksien kan hierdie simptome vinnig tot verlies aan koördinasie, probleme met praat en sluk en selfs verlamming vererger.

In ernstige gevalle beïnvloed die toksiene die normale werking van die senuweestelsel, wat tot asemhalingsversaking kan lei en, indien dringende mediese behandeling nie betyds ontvang word nie, selfs die dood kan veroorsaak,” voeg Nqayi by.

Hy meen die volgende toets sal gedoen word op grond van die konsentrasies van die toksienproduserende fitoplankton, wat steeds in hoë getalle in die Saldanhabaai voorkom. “Dit hang af van hoe lank dit neem voordat die algebloei verdwyn. Die Voedselveiligheidskantoor wag intussen op die uitslag van ‘n mosselmonster wat verlede week geneem is.”

Volgens Vos Pienaar, die voorsitter van die Tweekleppige Skulpvis-boerevereniging van Suid-Afrika, lê die departement sterk klem daarop dat die publiek aangeraai word om nie skulpvis te oes of te eet nie totdat verdere kennisgewing uitgereik word. “Die moniteringstelsel is van internasio­nale standaard en word deur die DFFE bestuur. Dit het oor baie jare bewys dat dit openbare veiligheid doeltreffend verseker. Gekweekte mossels en oesters sal nie die mark bereik tensy dit volledig veilig is om te gebruik nie. Mense wat mossels aan die kus versamel, moet eers navraag doen of dit veilig is om te gebruik,” waarsku Pienaar.

Nqayi voeg ook by dat die voedselveilig­heidskantoor van die direktoraat vir volhoubare akwakultuurbestuur ‘n kennisgewing aan senior bestuurders sal stuur, wat die verdere kommunikasie sal koördineer en dus so die publiek inlig.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 25 June 2026
    Weslander E-Edition – 25 June 2026

Gift this article