Die brand op die tuinvullis-gedeelte by die Vredenburg-stortingsterrein langs die Hopefieldpad (R45), wat nou al ‘n week lank woed, tart brandbestryders se pogings ondanks Sondag 28 Junie se reënval.
Brandbestyders hvan die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het gehoop dat dit die situasie sou omkeer.
Hulle spook al sedert Woensdag 24 Junie om die brand te blus terwyl die rook veral verlede week so ver as Paternoster en St. Helenabaai geruik is.
Volgens Ethne Lawrence, ‘n woordvoerder vir die SBM, belemmer wind steeds brandbestrydingspogings en veroorsaak dit dat rook van tyd tot tyd oor dele van Vredenburg en die omliggende omgewing versprei. Met Weslander se besoek die afgelope Dinsdag (30 Junie) het rook steeds bo die smeulende hope gehang.

Volgens Lawrence het die reën slegs oppervlakkig gehelp om die hoë hope plantafval af te koel. “Die primêre bekommernis is die hoogte en digtheid van die plantafvalhope, waar aktiewe vlamme dikwels in die boonste lae sigbaar is terwyl smeulende verbranding in die onderste gedeeltes voortduur.
Dit skep ‘n ingewikkelde en ar- beidsintensiewe brandbestrydingsomgewing,” het Lawrence gesê.
Volgens haar gaan die brand net geblus word deur die plantafvalhope stelselmatige uitmekaar te haal om toegang tot die onderliggende, diepgesetelde brande onder die oppervlak te verkry. “Hierdie proses is tydrowend en hulpbronintensief.”
Personeel van die munisipaliteit se vasteafval-afdeling werk onvermoeid saam met brandweerpersoneel om die brand te blus en die brandrisiko te beperk. “Hul gekoördineerde pogings behels die voortdurende verwydering van lae en die doelgerigte blus van versteekte hittebronne sodra dit blootgelê word,” het Lawrence verduidelik.
Inwoners word steeds aangemoedig om voorsorgsmaatreëls te tref om hulle teen rook te beskerm, hoewel die wind vandeesweek nie so sterk waai nie. Diegene wat aan asma of ander respiratoriese siektes ly, word aangeraai om hul verligting-medikasie gereed te hou en dit soos voorgeskryf te gebruik.
Motoriste wat lugversorgingstelsels gebruik en verby die brand ry, word aangeraai om dit op “hersirkuleer”-modus te stel om te voorkom dat rook na binne getrek word.
Die munisipaliteit het gewaarsku dat enigeen wat ernstige kortasem-, borskaspyn- of langdurige hoesprobleme ondervind, summier mediese hulp moet verkry. Vir noodgevalle kan inwoners die beheersentrum bel by 022 701 6834.






