Weslander het vroeër vandeesweek (25 Mei) oor die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se onvoltooide begraafplaas-uitbreiding langs die Sentrale Begraafplaas tussen Vredenburg en Saldanha berig.
Rye ongeverfde pilare, onvoltooide strate en honderde opgestapelde waardevolle sement-randstene sonder enige sekuriteit, wat al vir maande staan en verweer, skep vrae oor wat presies die SBM se langtermynplan met dié duur munisipale projek is.
Skade deur vandale en metaaldiewe aan die bestaande begraafplaas se heining word ook nie herstel nie.
Van die kommentare op Weslander se Facebook-blad waar die berig geplaas is, toon inwoners se kommer.
“Lyk baie sad”, “Reeds ‘n plaas vir onheil”, “Toekomstige einde”, “Moet ons begraafplaas nou ook soos Laingville en ander plekke s’n begin lyk?”, skryf lesers.

Ná ‘n aanvanklike stilswye, het die SBM wél op Weslander se versoek vir kommentaar gereageer.
Volgens Ethne Lawrence, ‘n woordvoerder van die SBM, is die ontwikkeling van die Sentrale Begraafplaas ‘n meerjarige projek wat strek oor meer as een finansiële jaar. Lawrence sê daar is ook voorsiening gemaak in die konsep kapitale begroting van die komende finansiële jaar en fondse sal gebruik word om die projek te voltooi.
“Die koste vir die gedeeltes reeds voltooi, beloop R1 050 000 vir interne paaie en R1 100 000 vir die omheining en daar was gebruik gemaak van goedgekeurde jaartenders.”
Volgens Lawrence is daar geensins verval van die betrokke infrastruktuur en geen skade nie.
Sy sê daar word beoog om die projek teen einde Junie 2027 te voltooi teen ‘n beraamde koste van R150 000 vir interne paaie en R500 000 vir die omheining.
Volgens Lawrence is die ruimte van die bestaande begraafplaas nog voldoende.
“Vandalisme is egter ‘n groot euwel in die munisipale gebied en geskied aanhoudend. Herstelwerk geskied deurlopend soos fondse binne die operasionele begroting beskikbaar is.”
Volgens Johan Rousseau, ‘n kenner van die land se begrafnisbedryf, en die voorsitter van die Vereniging van Hervormde Begrafnisondernemers (FIRA), is die toestand van begraafplase landwyd haglik en beheer munisipaliteite nie hulle fondse daarvoor behoorlik nie.
“Dit is ‘n wesenlike probleem wat ons sien in al die provinsies. FIRA het ook al met die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) daaroor gepraat. Geld vir begraafplase kom uit munisipale begrotings, maar hoe word die fondse aangewend?
“Mense betaal vir grafte in begraafplase, maar word sulke fondse uiteindelik aangewend vir instandhouding van begraafplase of word dit bloot in die algemene pot gegooi?”





