Die liggaam van ‘n 69-jarige man is op Dinsdag 24 Maart by die treinspoor by die ou Chemfos-mynperseel gevind.
Die identiteit van die oorledene is bevestig as Pieter Esau wat sedert Saterdag 21 Maart vermis was.
Esau is op Maandag 23 Maart as vermis aangemeld nadat hy nie huis toe teruggekeer het nie. Dit is die tweede lyk wat in minder as ‘n week in die omgewing gevind is.
Weslander het ook op Maandag 23 Maart berig oor ‘n onbekende man wat in die veld naby die ou Jacobsbaai-landingsbaan gevind is.
Volgens Mertle Ockhuys, wat Esau as ‘n oupa beskou het, het hy by sy dogter in Green Village gaan kuier ten tyde van sy verdwyning.
Hoewel Esau ‘n ligte vorm van Alzheimers gehad het, het hy gewoonlik met sy stappies altyd by Ockhuys se ouma opgeëindig, juis omdat hulle ‘n goeie band gehad het.”Ons het gewag en gedink hy sou moontlik by my ouma opdaag, maar hy het nooit daar uitgekom nie.
“Ons het ook gedink dat sy gedagtes hom sou terugneem na sy vrou se dood toe, en dat hy miskien by die begraafplaas sou wees, maar dit was ook nie die geval nie,” vertel Ockhuys.
Sy het met Weslander gedeel dat die Vredenburg Soek-en-Reddingsdienste met haar kontak gemaak het nadat hulle afgekom het op klere wat soos dié van Esau gelyk het.
Volgens Edwina Boois van die Vredenburg Soek-en-Reddingsdienste het hulle naby die treinspoor op die klere afgekom. Die lyk het slegs ‘n meter verder gelê. Boois sê Esau se dogter was saam met die reddingspan en het inmekaargesak toe sy haar pa sien.
Ockhuys beskryf Esau as ‘n man van min woorde met ‘n sagte hart.
“Oom Pieter het ook altyd die manier gehad wanneer ons daar kom en dit was salarisdag, het hy altyd ‘n geldjie vir ons gegee en dan met die oë gewys ons moenie laat Nanna, sy vrou, sien nie. Jy kon hom enige tyd van die nag bel of gaan wakker maak as iets gebeur en selfs as hy jou êrens heen moes neem. Sy motor het nooit stilgestaan nie en hy sou nooit daaroor kla nie, hy het dit met ‘n vrywillige hart gedoen en nooit iets terug verwag nie,” voeg Ockhuys by.
Kol. Lindie Marx, die stasiebevelvoerder van die Vredenburg-polisie, sê geen misdaad word vermoed nie.
“Esau is Maandag as vermis aangemeld en as gevolg van ‘n soektog deur die Vredenburg Soek-en-Reddingsdienste, het hulle hom gevind. ‘n Geregtelike nadoodse ondersoek is geopen.”





