Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van die Weskus-polisie.

In Hopefield het ‘n klaer die gemeenskapssaal in Skoolstraat ná ‘n funksie op Saterdag 14 Maart gesluit. Dit was omstreeks 14:40. Op Maandag 16 Maart omstreeks 07:40 met aankoms by die saal, het die klaer opgemerk dat die syhek oop was. Met verdere ondersoek is gevind dat al die vullisdromme omgekeer en ‘n stuk koperpyp afgebreek en gesteel is. ‘n Saak van diefstal word ondersoek.

’n Slagoffer was deel van ‘n protesoptrede by die Elandsfonteinmyn se ingang op Woensdag 18 Maart. Die groep betogers het na bewering die ingang versper, wat glo teenstrydig met die ooreenkoms tussen die werkers en myn se bestuur was. Openbare Orde Polisielede (Pops) het gevolglik opgetree en ‘n 50-jarige vrou is beseer. ‘n Saak van aanranding is daarna deur die slagoffer aanhagig gemaak.

Op Woensdag 18 Maart het lede van die St. Helenabaai-polisie inligting opgevolg oor dwelms wat by ‘n woning verkoop word. Die woning is deursoek en een persoon (25 jaar oud) is vir handel in dwelms in hegtenis geneem. Tik en Mandrax met die waarde van R1 800 is in die verdagte se besit gevind.

Die St. Helenabaai-polisie het Vrydag 20 Maart drie persone in hegtenis geneem nadat onderdele van ‘n bus gesteel is. ‘n Saak van diefstal is aanhangig gemaak.

Op Maandag 23 Maart is drie verdagtes deur die St.Helenabaai-polisie in hegtenis geneem nadat inligting oor ‘n huisroof opgevolg is. Twee gesteelde iPhones ter waarde van R40 000 is teruggevind en aan die eienaar oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article