ST. HELENABAAI – Die ontdekking van ‘n vrou se lyk op ‘n plaas naby Laingville het tot bespiegeling gelei dat dit dalk die vermiste Magdalena “Suster Lenie” Rhode (75) kan wees, maar die polisie beklemtoon dat dit nog te vroeg is om te bevestig.

Die liggaam is op Donderdag 16 Julie omstreeks 15:50 op die Varkvlei-plaas langs Laingville gevind, en is deur forensiese ondersoekers van die toneel verwyder.

Volgens Thyrone Williams, onderburgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, het die polisie bevestig dat ‘n liggaam gevind is, maar dat forensiese ondersoeke eers afgehandel moet word voordat die vrou se identiteit vasgestel kan word. Hy het ‘n beroep op die publiek gedoen om nie onbevestigde inligting of gerugte te versprei nie.

Die familie van Rhode is intussen van die ontdekking in kennis gestel en sal op hoogte gehou word van die ondersoek.

Rhode, wat aan demensie ly, is op Sondag 28 Junie as vermis aangemeld nadat sy die laaste keer die vorige dag by haar woning in Laingville gesien is. Sy het ten tyde van haar verdwyning ‘n ligblou japon en pantoffels aangehad.

Haar familie het destyds ‘n beloning van R5 000 uitgeloof vir enige inligting wat tot haar opsporing kon lei.

Volgens haar seun, Ricardo Rhode, het sy al voorheen probeer om die huis te verlaat, maar die familie het ná haar ver- dwyning die hele Laingville-omgewing en omliggende gebiede deurgesoek.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisie, het bevestig ‘n geregtelike nadoodse ondersoek is geopen.

Die polisie het nog nie bevestig dat die liggaam wel dié van Rhode is nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 23 July 2026
    Weslander E-Edition – 23 July 2026

Gift this article