ST HELENABAAI – Die lyk van ‘n vrou is Donderdagmiddag 16 Julie omstreeks 15:50 op die Varkvlei-plaas naby Laingville gevind.
Die ontdekking het tot wydverspreide bespiegeling gelei, met inwoners wat vermoed dat dit die liggaam van die vermiste 75-jarige Magdalena “Suster Lenie” Rhode kan wees.
Rhode is op Sondag 28 Junie as vermis aangemeld nadat sy die laaste keer op Saterdag 27 Junie gesien is.
Volgens Thyrone Williams, onderburgemeester van die Saldanhabaai Munisipaliteit, het die polisie bevestig dat ‘n liggaam gevind is en dat dit deur forensiese ondersoekers verwyder is. Hy het gesê die forensiese ondersoek moet eers afgehandel word voordat enige identifikasie bevestig kan word.
Williams het beklemtoon dat die polisie op hierdie stadium nie kan bevestig dat die liggaam wel dié van die vermiste Rhode is nie. Hy het ook ‘n beroep op die publiek gedoen om nie onbevestigde inligting of gerugte te versprei nie.
Hy het gesê die familie is wel ingelig dat ‘n liggaam gevind is en dat hulle op hoogte oor verwikkelinge in die ondersoek gehou sal word. Die nodige toetse moet volgens Williams eers afgehandel word.
Ricardo Rhode, Ouma Lenie se seun, het ook nog nie amptelike bevestiging gekry dat dit sy ma se liggaam is nie. Hy wou nie meer oor die saak sê nie.
Kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskuspolisie, het bevestig dat ‘n dossier geopen is om ‘n geregtelike nadoodse ondersoek te doen.



