Die plek waar Ayrton Vraagom (28) Saterdagmiddag 11 Julie geskiet is waarna hy aan sy wonde beswyk het. Foto: Murphy Roberts
Die plek waar Ayrton Vraagom (28) Saterdagmiddag 11 Julie geskiet is waarna hy aan sy wonde beswyk het. Foto: Murphy Roberts

Saldanha-familie verpletter ná seun se skietdood

Die plek waar Ayrton Vraagom (28) Saterdagmiddag 11 Julie geskiet is waarna hy aan sy wonde beswyk het. Foto: Murphy Roberts
Die plek waar Ayrton Vraagom (28) Saterdagmiddag 11 Julie geskiet is waarna hy aan sy wonde beswyk het. Foto: Murphy Roberts

SALDANHA – Om ’n kind te verloor, is vir enige ouer ’n hartverskeurende ervaring.

Vir Zedra (Zahida) Abrahams van die Diazville-buurt het dié werklikheid op Saterdag 11 Junie aangebreek toe sy die verpletterende nuus van haar seun, Ayrton Vraagom (28), se dood ontvang het.

Volgens Abrahams was sy by ’n gemeenskapsmodeparade toe die voorval in Harvest Sunstraat plaasgevind het.

Sy vertel Vraagom was juis onderweg na dié modeparade en sou daarna ’n rugbywedstryd gaan kyk het. Volgens haar was haar seun saam met ’n vriend toe hulle na bewering deur ’n man genader is. Dié man, vertel Abrahams, het glo ’n vuurwapen uitgehaal en op haar seun se vriend geskiet.

Vraagom het volgens sy ma probeer ingryp om die situasie te beredder en om sy vriend te beskerm, maar hy is in die bors geskiet.

Wyle Ayrton Vraagom.
Wyle Ayrton Vraagom.

“Die ambulans het te lank geneem, en ’n vriend het hom met ’n motor hospitaal toe geneem. Die ambulanspersoneel het alles moontlik gedoen om hom aan die lewe te hou, maar met sy aankoms by die hospitaal was hy reeds oorlede.”

Abrahams sê sy is tydens die funksie deur ’n kind geroep waarna sy onmiddellik na die toneel gehaas het. Met haar aankoms is sy meegedeel dat haar seun reeds na die hospitaal geneem is.

“Toe ek by die hospitaal kom, het die dokter vir my gesê ek moet sterk wees. Hy het verduidelik dat Ayrton reeds oorlede is toe hy daar aangekom het. Ek het hom gaan sien en met hom gepraat. Hy het daar gelê en sy gesig het so mooi gelyk, asof hy gestraal het. Hy het vrede uitgestraal, en dit het vir my gemoedsrus gegee.”

Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus, ondersoek die polisie klagtes van moord en poging tot moord. Sy het ook bevestig dat geen verdagtes al in hegtenis geneem is nie.

Abrahams beskryf haar seun as ‘n stil mens, maar ook een wat sy familie beskerm het. “Hy het my die gelukkigste vrou in die wêreld gemaak en my kom leer wat ‘n ma is. Hy was baie betrokke in sy gemeenskap en het vrede en orde gebring. Die hele familie is verpletterd en sy kinders verwerk nog die nuus.”

Abrahams spog graag oor hoe trots sy was op haar seun en dit wat hy al in sy lewe bereik het.

Medelye van liefde en omgee en die impak wat hy op die lewens van ander gehad het saam met die talle boodskappe wat Abrahams tot dusver ontvang het, is ‘n testament van die lewe wat Vraagom gelei het.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 16 July 2026
    Weslander E-Edition – 16 July 2026

Gift this article