HOPEFIELD – “As die Weskus se oudste dorp het dit ‘n ouwêreldse atmosfeer, omring deur delikate fynbos en groen koringlande in die winter. Dié historiese dorp spog met ‘n natuurlike fynbosuitstalling wat besoekers en plantliefhebbers bekoor. Met meer as 500 fynbossoorte is dit ‘n Eden vir blomliefhebbers en botaniste … terwyl die gebied ook bekend is vir sy unieke heuningprodukte en fossielontdekkings.”
Dié lofgesang vir die dorp Hopefield verskyn op die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se amptelike webwerf.
Dit is dieselfde DA-beheerde plaaslike regering wat waarskynlik binnekort ‘n deurslaggewende rol gaan speel in die bewaring en behoud van dié skatkis van blommeprag en inheemse kultuurerfenisse.
Dieselfde regering wat nou, volgens sommige inwoners en omgewingsaktiviste, dié erfenis deur ‘n omstrede multimiljardrand brandstof- en reuse-sonkragaanleg laat bedreig.
Die SBM is die regeringsvlak wat grondgebruiksgoedkeuring, en dus die groen lig, vir projekte soos dié moet gee.
Luide teenkanting by gemeenskapsvergadering
‘n Gemeenskapsvergadering is verlede week in Hopefield gehou, en verskeie bekommerde inwoners het in ‘n volgepakte NG-kerksaal een na die ander na vore getree met duidelike boodskappe aan die ontwikkelaars van dié beoogde projekte op Hopefield se voorstoep:
“Ons benodig ontwikkelings en werkskepping, maar nie dié soort nie”;
“Ons kan hulle nie vertrou nie. Hulle is nie eerlik en openlik met wat hulle uiteindelik met die projek beoog nie”;
“Saamgeflansde inligting word aan ons opgedis”;
“‘n Rush job!”;
“Die regering het klaar besluit dat die projek gaan voort. Ons gaan hulle nie met die wet kan keer nie. Al is die reg aan ons kant”;
“Ons het ons les geleer met die myn”; en
“We need to stop this project!”

Die vergadering is deur die Weskus Omgewingsbewarings-assosiasie (WOBA) gereël. Volgens WOBA was die bywoning bemoedigend en het mense van Langebaan, Vredenburg, Velddrif, Moorreesburg en Yzerfontein dit bygewoon. WOBA sal binnekort datums bekendmaak vir nóg vergaderings in verskeie Weskusdorpe.
Openbare teenstand en kommer neem stelselmatig toe en nie net omgewingsaktiviste en inwoners maak rugstyf teen dié beoogde waterstof- en eSAF-aanleg nie.
Die Khoi-San Cochoqua Erfenisbewaringsliggaam het reeds geeis dat omgewings- en erfenisprosesse onmiddelik opgeskort word en dat die openbare deelnameproses heropen word.
Intussen hoop meer vrae op oor presies wát die uiteindelike omvang van die projek is, terwyl kenners en inwoners meen rooi ligte flikker oor die ontwikkeling se openbare deelnameprosesse, beloftes van werkskepping en moontlike politieke inmenging op alle regeringsvlakke om die weg te baan vir maklike omgewings- en watergebruikgoedkeurings.
Die Phelan Green-groep van Kaapstad beplan ‘n brandstofverwerkingsaanleg van byna R50-miljard vir die vervaardiging van tonne elektries volhoubare lugvaartbrandstof (eSAF), wat per pad na die Saldanhahawe vervoer sal word vir uitvoere na onder meer Europese lande.
Die oud-burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, André Truter, wat intussen Hopefield toe verhuis het, is in ‘n senior bestuurshoedanigheid by die projek betrokke.
Openbaredeelnameproses “verdag”
‘n Bestuurskonsultant in Hopefield, Kathy Lewis, het ‘n evaluering gedoen van die Maatskaplike Impakstudie (MIS/SIA), wat reeds deur konsultante vir die projek saamgestel is. Sy was een van die sprekers tydens verlede week se vergadering.

Volgens Lewis wek die wyse waarop die openbare deelnameprosesse gevoer word nie vertroue nie. “Dit laat ook vrae ontstaan oor die rol van alle regeringsvlakke. Die Phelan-groep het reeds kennisgewings opgerig en is besig om masjinerie en toerusting na die terrein te verskuif.
“Hoewel die maatskappy geregtig is om dit te doen, aangesien dit die eienaar van die betrokke grond is, maak dit terselfdertyd op verskeie mediaplatforms verklarings oor die projek, insluitend ooreenkomste wat met vennote onderteken word tydens geleenthede waar verteenwoordigers van die nasionale regering teenwoordig is.”
Lewis sê dit wek die indruk dat die maatskappy moontlik voorafversekering ontvang het dat al die nodige goedkeurings vir die projek toegestaan sal word.
“Uiteraard het die regering die mandaat en die reg om ekonomiese ontwikkeling ingevolge sy beleidsraamwerk na te streef, maar wat tans ontvou, laat dit voorkom asof openbare deelnameprosesse bloot ‘n formele ‘afmerk-oefening’ is wat hoofsaaklik gebruik word om die harte en gedagtes te wen van mense wat deur die mislukking van die breër sosio-ekonomiese stelsel in desperaatheid gedompel is.”
Volgens Lewis is die beoogde projek se MIS/SIA gedateer Januarie 2025 en is dit duidelik die produk van ‘n lessenaarstudie wat beskryf word as ‘n “basislynverslag”.
Sy sê die verslag verklaar dat die volgende stap in die MIS/SIA konsultasies met sleutelbelanghebbendes sal behels – gespesifiseer as sleutellede van die gemeenskap, plaaslike owerhede en ander relevante partye om waardevolle insigte oor die moontlike maatskaplike gevolge van die projek te verskaf.
“Byna 18 maande later het hierdie konsultasies steeds nie plaasgevind nie, en dit is onduidelik wanneer dit gedoen sal word of wie sal besluit watter belanghebbendes geraadpleeg sal word. Die doel van ‘n basislynstudie is om ‘n geloofwaardige, goed gedokumenteerde en akkurate beeld van die toestande vóór verandering vas te stel, waarteen verandering oor tyd gemeet kan word.
“Die data in die MIS/SIA-basislynstudie verskaf nie ‘n huidige profiel van die dorp se bevolking waarteen die toekomstige maatskaplike en ekonomiese impak gemeet kan word nie. Na my mening is die ‘bevindinge’ van die MIS/SIA veralgemeen en vaag, en daarom skaars geloofwaardig binne die konteks van Hopefield.”
Lewis meen dit is ondenkbaar dat ‘n maatskappy met Phelan Green se gevestigde bestaan en omvang nie oor spesifieke inligting beskik oor die aantal poste wat met die bou en bedryf van ‘n massiewe sonkragfasiliteit en ‘n raffinadery vir waterstof en lugvaartbrandstof gepaard gaan nie, asook oor die vaardigheids- en bevoegdheidsprofiele wat vir hierdie poste vereis word.
“Dit laat die vraag ontstaan: waarom word hierdie inligting nie bekend gemaak wanneer die vooruitsig van werkskepping as ‘n primêre motivering vir die ontwikkeling aan die plaaslike gemeenskap voorgehou word nie?”

Weslander het die terrein vir die beoogde projek buite Hopefield besoek. Hoewel verskeie noodsaaklige en vereiste wetlike prosesse steeds nie afgehandel is nie en omgewingsmagtigings uitstaande is, pryk kennisgewingsborde reeds by die terreiningang.
Onsekerheid spoel oor na eiendomsmark
Die brandstof- en sonkragaanleg het ook reeds kommer en onsekerheid in die dorp se eiendomsmark begin saai.
Volgens ‘n beswaarde inwoner, wat verkies om anoniem te bly, is die brandstofaanleg en sonkragaanleg slegte nuus vir die dorp. Hy sê die beplande projek het veroorsaak dat ‘n moontlike eiendomstransaksie van sy broer skipbreuk gely het.
“Teen daardie tyd was daar reeds gerugte oor die projek. Dit het later geblyk dat ‘n voornemende koper, wat die eiendom kom besigtig het, besluit het om nie in Hopefield te koop nie omdat hulle gehoor het van die beplande sonkragaanleg en waterstofprojek. Dit is vir ons ook ‘n groot bron van kommer. Indien ons nou sou besluit om te verkoop, hoe sal ons ‘n billike prys kry wat ons in staat stel om weer die eiendomsmark te betree? Ek glo dat eiendomspryse gaan daal. Wie wil werklik na die platteland verhuis om langs ‘n sonkrag- of waterstofaanleg te woon?”
Volgens dié inwoner is sy gesin gekant teen die projek.
“Ons is uiters teleurgesteld oor die nuus van ‘n beplande projek van hierdie aard en omvang. Ons het gekies om in Hopefield te kom woon omdat ons aangetrokke was tot die ouwêreldse bekoring, die egte gemeenskapsgevoel, veiligheid en die plattelandse leefstyl, met die voordeel van gerieflike toegang tot geriewe en ‘n uitstekende skool. Dit is die lewe waarvan ons nog altyd gedroom het en waarin ons ons kind wou grootmaak.
“Deur my lewenservaring het ek gesien wat sulke projekte aan ‘n dorp doen. Die sterk gemeenskapsgevoel waarvoor Hopefield bekend is, sal verlore gaan. Misdaad neem toe en dit word ‘n plek waar ‘n mens nie meer jou kinders wil grootmaak nie. Dit is afgesien van die gesondheidskwessies wat met aanlegte van hierdie aard gepaard gaan.”
Volgens dié inwoner oorweeg hy dit nou ernstig om hulle eiendom te verkoop. “Dit sal beslis nie meer ‘n geskikte omgewing wees om ‘n gesin groot te maak nie. Tans voel ons lewe in Hopefield soos ‘n sprokie – misdaad is minimaal, my gesin is veilig en ons het ‘n uitstekende lewensgehalte opgebou. Indien hierdie projek voortgaan, sal dit ongelukkig verlore gaan, en dit is beslis nie die rede waarom ons na die platteland verhuis het nie.”
Hoekom só ‘n projek by Hopefield?
Dit is die vraag wat gereeld opduik wanneer die omstrede waterstofaanleg en sonkragaanleg deur Weskusinwoners bespreek word.

‘n Omvattende studieverslag van byna 100 bladsye, West Coast Green Hydrogen Master Plan (Phase 1), is in Februarie 2026 uitgereik. Dit is deur die Wes-Kaapse regering, die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) en Freeport Saldanha saamgestel. Dit was befonds deur die DA-beheerde Wes-Kaapse regering en Freeport Saldanha.
Die verslag se projekbestuurskomitee het onder meer bestaan uit die provinsiale regering, Freeport Saldanha, Wesgro, Transnet, die WNNR en die SBM, terwyl sowat 40 lede ‘n werkgroep gevorm het. Een van die verteenwoordigers op dié werkgroep was Phelan Green Energy.
Die studieverslag moes dien as ‘n meesterplan vir die vestiging van die Saldanha-waterstofspilpunt, wat uiteindelik uit onder meer ‘n uitgebreide netwerk van bestaande en nuwe paaie, spoorlyne, pyplyne en kragopwekkingsgeriewe in die uitgestrekte Weskus Distriksmunisipale-gebied, met sy vyf plaaslike regerings, sou bestaan.
Volgens dié meesterplan was die die Besaansklip-nywerheidsgebied by Saldanha, vlak langs die hawe, egter destyds geoormerk vir die projek se kernbedrywighede.
Die verslag verwys nêrens na Hopefield as die voorkeurgebied vir die vestiging van ‘n multimiljard-rand-waterstofaanleg nie.
Weslander het die SBM vir kommentaar oor die beoogde Hopefieldprojekte genader en ‘n omvattende lys vrae is gestuur. Die vrae het onder meer gehandel oor die SBM se bewustheid van en betrokkenheid by die projekte, die munisipaliteit se standpunt en goedkeuringsprosesse, asook hul kennis van die groeiende gemeenskapsteenkanting.
Verdere vrae het gefokus op die SBM se bemarking van die projekte, die rol wat die voormalige burgemeester gespeel het om die waterstofaanleg nasionaal en internasionaal te bevorder, en of die raad vooraf bewus was van die burgemeester se plan om na sy bedanking vir die Phelan Green-groep te werk.
Daar is ook navraag gedoen oor ‘n memorandum van verstandhouding wat in Oktober 2022 onderteken is om Saldanha as Afrika se “groenenergiehub” te vestig, wanneer die besluit geneem is om die projekterrein na Hopefield te verskuif, en of die munisipaliteit reeds ‘n grondgebruikaansoek ontvang het.
Geen erkenning van ontvangs óf antwoorde op Weslander se vrae is egter ontvang nie.
Registreer vóór Maandag 9 Julie as geïnteresseerde party
Volgens Nicola Viljoen, die voorsitter van WOBA, sluit die kommentaarperiode vir die watergebruikaansoek (WULA) volgende Maandag (6 Julie). Sy sê WOBA het die betrokke projekkonsultant, WSP, al twee keer gevra vir ‘n afskrif van die WULA, maar het dit nog steeds nie ontvang nie. “Ons het wel telefoniese bevestiging gekry van die Breederivier/Olifantsrivier Opvangsbestuursagentskap (BOCMA), dat daar nie ‘n aansoek van Phelan op hulle stelsel is nie.
Wat die sonkragaanleg betref, is die finale Konsep-Omvangsverslag nog nie deur Eco-compliance beskikbaar gestel nie.”
Volgens WOBA is die finale Konsep-Omvangsverslag vir die waterstofaanleg wél deur WSP beskikbaar gemaak aan die publiek.
“Die Bevoegde Owerheid (Wes-Kaapse Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning) het 43 dae (ná die Finale Konsep-Omvangsverslag ingedien is) om te besluit of hulle die verslag aanvaar of verwerp.
Die belangrikste is dat die publiek bewus is daarvan dat hulle nog steeds kan registreer as ‘n belanghebbende en geaffekteerde party om sodoende kommentaar te kan lewer op die omgewingsimpakbeoordelings (OIB’s) vir al die verskillende prosesse:
- Waterstof en eSAF – pp@wsp.com.
- WULA – pp@wsp.com.
- Sonkragaanleg – percy@ecocompliance.co.za






You must be logged in to post a comment.