Vir Helena van der Westhuizen is die jaarlikse Hopefield-fynbosskou ‘n lewenspassie wat so diep wortel skiet soos die fynbos in die omgewing se sandveld.
As voorsitter van die skoukomitee is sy die hartklop van die skou wat vanjaar sy 37ste verjaardag vier en van Donderdag tot Sondag, 27 tot 30 Augustus, op die dorp se sportterrein plaasvind.
Maar wie is Van der Westhuizen eintlik? As derdegenerasie byeboer en stigter van Simply Bee is sy ‘n bekende naam vir haar natuurlike produkte wat van heuning, byewas en propolis gemaak word. Sy is egter ook ‘n kampvegter vir die bewaring van die Kaapse fynbos. “Sonder bye het die mens geen toekoms nie,” sê sy met oortuiging. Dit is hierdie filosofie wat die dryfkrag is in haar onderneming en in haar toewyding aan die fynbosskou.
Vir Haar is die skou ‘n viering van alles wat sy liefhet: die biodiversiteit van die fynbos, die gemeenskap van Hopefield, en die opvoeding van jonk en oud oor die belangrikheid van volhoubare byeboerdery.
Die Hopefield-fynbosskou is in 1989 deur Fiona Kotze, Kobie Truter, Elna Slabber, Eleanor Melck, Philbert Melck en plaaslike boere gestig. Vandag koester Van der Westhuizen hierdie erfenis met dieselfde passie.
Jaar ná jaar groei die skou. Verlede jaar het sowat 7 500 besoekers deur die hekke gestroom om die blomme- en plante-uitstallings te bewonder wat as van die beste in Suid-Afrika beskou word.
“Ons fynbos-uitstalling – waaraan ons al twee weke werk – sal een van die hoofaantrekkingspunte wees. Dele van die Sand-, Riet- en Renosterveld word uitgebeeld met alles van fynbos tot spinnekoppe,” vertel sy entoesiasties.
Maar daar is iets wat sy duidelik wil maak: die skou word aanmekaargesit en beman deur vrywilligers. “Almal wat julle by die skou sien – op die veld, by die hekke, in die uitstalsaal, in die kossaal, die teetuin en biertent – is vrywilligers. Niemand word betaal nie.”
Van die versamel van blomme en plante tot die uitpak, uitstalling en opruim daarna, dit alles gebeur danksy vrywilligers.
Donderdagaand om 18:00 vind die Mnr. en Mej. Tiener Fynbos in die biertent plaas waar Weslander ook die wenners van die Weslander-Fotogenies-kompetisie aankondig. Vir Van der Westhuizen is die skou se belangrikste doel om die bewaring van fynbos-biodiversiteitsones reg rondom Hopefield en die groter Weskus te bevorder. “Die skou word van die gemeenskap aan die gemeenskap gegee,” sê sy. Skakel 063 406 0621 of besoek www.hopefieldfynbos.co.za




