Jurie Hayes Primêr het rede om fees te vier nadat al drie die skool se spreekkore onlangs uitstekende prestasies in die Eisteddfod behaal het. Die Intermediêre Fase- en Grondslagfase-spreekkoor het albei ‘n Cum Laude-toekenning ontvang, terwyl die Graad R-spreekkoor ‘n goue toekenning behaal het.

Die skool het sy trots uitgespreek teenoor elke leerder en afrigter wat met toewyding, harde werk en passie tot die sukses bygedra het. Die prestasies is volgens die skool ‘n bewys van deursettingsvermoë en spanwerk. “Julle het Jurie Hayes Primêr met trots verteenwoordig,” het die skool gesê, en bygevoeg dat die prestasies hopelik die begin van nog vele suksesse sal wees.






