Die Hopefield-fynbosskou is ­vanjaar weer gereed om besoekers met ‘n naweek propvol fynbos, musiek, vermaak en gesinsaktiwiteite te ontvang.

Musiek is ‘n groot deel van die program, met Vigeniëa Payne wat deur die loop van die naweek optree. Saterdag se program is besonder vol, met Veldblom, Leonard Lang, Brandon Miles, The Banned, Dassie, Ivan van der Merwe en Louis van Lill, wat almal die verhoog sal betree.

In die Geselstent kan besoekers na verskeie interessante gesprekke en praatjies kom luister. Gideon Melck sal onder meer oor die besondere koekemakranka gesels, terwyl die internasionaal bekroonde landskapontwerper Leon Kluge oor fynbos en die Weskus se lenteblomme sal praat.

Kluge het onlangs verdere internasionale erkenning vir sy werk met Suid-Afrikaanse plante en fynbos by die bekende Chelsea-blommeskou in Londen ontvang.

Een van die skou se besondere hoogtepunte is die daaglikse orrel­uitvoering deur Julian Melck om 12:00 in die NG kerk Hopefield.

Die geskiedkundige orrel, tesame met die atmosfeer en geskiedenis van die kerk, bied besoekers ‘n unieke Hopefield-ervaring.

Brandon Miles
Brandon Miles

Vir die jongspan en gesinne is daar daagliks ‘n verskeidenheid aktiwiteite, waaronder trekkerritte, ‘n meganiese bul, Fun Slide, Wipe-Out Sweeper, Gyro 360, swaaie en ‘n Big Wheel.

Besoekers kan ook die fynbosuitstal­ling en -praatjies besoek, asook ­tradisionele kos, handwerk en ander stalletjies geniet.

Teetuin en biertent

‘n Teetuin en biertent bied geleent­hede om rustig te kuier en die skou-­atmosfeer te geniet.

Die tradisionele Fynbosskou-kerkdiens vind op Sondag 30 Augustus om 09:30 in die NG kerk in Hopefield se middedorp plaas. Almal is welkom.

Louis van Lill
Louis van Lill

Die skou beklemtoon vanjaar weer die streek se besondere fynbos, biodiversiteit, bewaring en erfenis.

Die organiseerders, Helena van der Westhuizen en Olivier Slabber, spreek hul dank uit teenoor die talle vrywilligers wat ure se harde werk insit om die skou moontlik te maak, asook die Hoërskool Hopefield, die Saldanhabaai-­munisipaliteit en CapeNature vir al hul ondersteuning.

“Dit verg ‘n hele gemeenskap om ‘n geleentheid soos die Hopefield-fynbosskou aan te bied. Ons waardeer elke vrywilliger, ondersteuner, deelnemer en organisasie wat help om van hierdie besonderse naweek ‘n sukses te maak.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 August 2026
    Weslander E-Edition – 27 August 2026

Gift this article