VELDDRIF – Jazzliefhebbers van oor die Weskus kan op Saterdag 3 Oktober uitsien na ’n aand van musiek, kuier en heerlike kos tydens die derde Bergrivier Jazz by die Laaiplek Hotel in Velddrif.
Steyn Fourie bied die musiekfees aan met die ondersteuning van die Bergrivier-munisipaliteit. Fourie is ook die organiseerder van die jaarlikse Weskus Kuierfees.
Bekende kunstenaars en plaaslike musiektalent gaan die verhoog deel. Emo Adams en sy orkes, Karin Kortje, Richard Cesar, Mario Arnolds, Uncle Cal, Granville Michaels en Steyn Fourie is van die kunstenaars wat op die program verskyn.
Feesgangers kan onder die sterre na jazzmusiek luister met die sonsondergang oor die Bergrivier as agtergrond. Kosstalletjies sal ook beskikbaar wees.
Fourie sê die fees lok besoekers van regoor die Weskus en bied terselfdertyd ’n welkome ekonomiese hupstoot aan Velddrif, aangesien besoekers van buite die dorp in plaaslike gastehuise oornag.
Die hekke open om 16:00. Kaartjies kos R150 per persoon en is beskikbaar by Weskustickets.
Vir meer inligting, bel Fourie by 083 558 4947.





