Die 2025 Swartlandskou se stalletjie-trofeewenner, AFGRI.

Vier landbou op Swartlandskou


MOORREESBURG – Moorreesburg maak gereed om van Woensdag 2 tot Saterdag 5 September die hartklop van die Wes-Kaapse landbou te wees wanneer die 92ste Swartlandskou sy hekke open.

Die vierdaagse skou bring besoekers van reg oor die land byeen vir kampioenskappe, topgehalte-vee, uitstallings, vermaak, kos en die besonderse plattelandse atmosfeer waarvoor die skou bekend is.

Die beesafdeling is vanjaar een van die groot trekpleisters met 10 raskampioenskappe, gevolg deur die gewilde Interras-kampioenskap op Saterdag, waar die kampioene om die titel van beste bees op die skou meeding.

Twee nuwe toevoegings vir 2026 is waterbuffels en Chianina-beeste, wat besoekers die geleentheid bied om dié besonderse diere van nader te sien.

Die kleinvee-afdeling bied onder meer die Swartlandskou Boerboelkampioen- skap, ‘n skaapkarkas-opsaaidemonstrasie, die gewilde skaapkopete en ‘n kleinvee-inligtingsdag met die fokus op onder meer voeding, medisyne, veeartsenykunde, wol, skeer en bemarking.

Die Wes-Kaapse kwalifiserende jeugskou vind Woensdag plaas, waartydens jong deelnemers in 10 dissiplines hul kennis en vaardighede demonstreer.

Perdeliefhebbers kan vier dae se aksie geniet, met onder meer die Vlaamperd SA- en SA Saalperd-kampioenskappe. Die gewilde agtspan-waperde sal Saterdag die arena betree, terwyl miniatuurperde vanjaar ‘n nuwe toevoeging is.

Musiek en vermaak deur gewilde Afrikaanse kunstenaars, in samewerking met Afrikaans op die Platteland, rond die program af.

Die Swartlandskou beloof dus iets vir die hele gesin – van landbou en diere tot kos, wyn en musiek.

Besoek www.swartlandskou.co.za vir nog inligting en die volledige program.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 August 2026
    Weslander E-Edition – 27 August 2026

Gift this article