Die afgelope Saterdag (22 Augustus), het Young Hearts en Saldanhabaai mekaar op die berugte Grafkelder in Pella in die laaste ronde van die 2026- Weskus-Grootuitdaagbeker-kompetisie van die Boland-rugbyunie gepak. Die atmosfeer was gelaai met spanning, want op die Grafkelder bring dit die beste uit die Weskus-spanne wat daar besoek aflê.
Hoewel Saldanhabaai van vroeg af die wedstryd beheer het, was dit die tuisspan wat eerste bloed geruik het. Louis Afrikaner het met ‘n prag-breekslag die verdediging gesny, Cole Lawrence gevind en die bal gevoer sodat hy onder die pale kon afrond. Tyrique Marais het die ekstra twee punte bygevoeg, wat Hearts 7-0 laat voorloop het. Saldanhabaai het egter vinnig teruggeslaan met ‘n strafskop, wat die gaping tot 7-3 verminder het.
Saldanhabaai het hierna momentum opgebou toe Jenivan Cleophas ‘n pragtige breekslag uitgevoer, Emile Booysen aan sy binnekant gevind en die bal in sy hande geplaas het vir ‘n drie onder die pale. Die doelskop was suksesvol en Saldanha het 10-7 voorgeloop.
‘n Paar minute later het die Baai se kaptein, Samuel Greyling, sy span goed gelei en die bal slim uitgespeel, wat tot ‘n drie deur Sinethemba Nkolomba gelei het. Teen rustyd het Saldanhabaai ‘n stewige voorsprong van 17-7 teen die onvoorspelbare Hearts opgebou.
Vyf minute ná die hervatting van die tweede helfte het Feghon-Leigh Snyders die verdediging oopgesny en in die hoek gedruk om die telling tot 24-7 te vergroot.
Young Hearts het teruggekap toe Gilmore Solomons sy kans benut en ‘n drie gedruk het, wat deur Marais verdoel is. Die telling het tot 14-24 gekrimp en die tuisspan het weer hoop gekry.
Daardie hoop was egter kortstondig. ‘n Rooikaart het Hearts se kanse geknak en die momentum finaal na Saldanhabaai geswaai. In die laaste vyf minute het Snyders sy vernuf gewys en die bonusdrie behaal, wat die wedstryd finaal verseël het. Die eindtelling was 31-14 in Saldanhabaai se guns.
Die oorwinning het Saldanhabaai se kampioenskapsdrome bevestig en hul posisie in die Grootuitdaagbeker versterk.
Vir Young Hearts was dit ‘n harde les, maar ook ‘n herinnering aan die klipharde aard van Weskus-rugby.
Dié nederlaag het hul kans op ‘n hoë eindposisie gekelder.
Die Burg Boys, wat teen Velddrif vasgeval het, is nou onder druk om die tweede plek te verseker.
Eerskomende naweek reis hulle na Diazville, waar hulle die Saldanha Tigers in hul agterplaas daar aandurf. Die wedstryd is deurslaggewend en sal die tweede en derde posisies se lot vorentoe bepaal.
Die Albatrosse het intussen nader aan die Burg Boys gespring. As hulle eerskomende naweek ‘n oorwinning oor Saldanhabaai op die Saldanha-Transnet-stadion behaal, sal hy net vier punte agter die Burgboys wees. Dit gaan egter nie maklik wees nie, want Saldanhabaai het self met die Albatrosse ‘n appeltjie te skil om op die maak vir hul eersteronde-nederlaag.
Saldanhabaai sal die seisoen op ‘n hoë noot wil afsluit deur sy laaste wedstryd te wen, wat hom die kampioenskap sal besorg en die Albatrosse se wedloop om die tweede plek sal beëindig.
Uitslae: Weskus
Goedverwacht 34-61 Langebaan
St. Helenabaai 43-7 Saldanha Tigers
Velddrif 31-27 Vredenburg
Young Hearts 14-31 Saldanhabaai



