Personeel voor een van Swartland se vervaardigingsgeriewe. Foto: swartland.co.za

Sluiting van Atlantis-fabriek beplan


MOORREESBURG – Swartland Investments, bekend vir die vervaardiging van deure en vensterrame, het bevestig dat hulle besig is met ‘n sakeherbelyning wat die maatskappy se langtermyn-volhoubaarheid moet verbeter, maar wat ook tot werksverliese en die sluiting van sy Atlantis-fabriek kan lei.

Die maatskappy, waar sowat 1 400 mense werk, het in ‘n verklaring aan WeskusNuus (Weslander se susterskoerant) gesê die besluit volg na deeglike oorweging van verskeie faktore.

Swartland erken dat die proses ‘n direkte en persoonlike impak op sy werknemers het. Die herbelyning kan tot veranderinge in sekere rolle lei en in sommige gevalle tot moontlike afleggings en aanpassings aan werksverhoudinge. Die maatskappy het beklemtoon dat hierdie maatreëls nie ligtelik oorweeg is nie. “Ons is verbind daartoe om die proses met sorg, regverdigheid en respek vir alle geaffekteerde werknemers te bestuur,” lui die verklaring.

Swartland het gesê die firma voer deursigtige en opregte gesprekke met werknemers en hul verteenwoordigers, en sal voortgaan om dit te doen in ooreenstemming met toepaslike wetlike en arbeidsverhoudingsraamwerke.

Atlantis-fabriek sluit moontlik

Vakbonde het bevestig dat die Atlantis-fasiliteit – wat histories vir die vervaardiging van uitvoerdeure verantwoordelik was – as deel van die afskaling vir sluiting geoormerk is.

Die herstrukturering spruit uit ernstige wêreldwye handelsdruk en die verskuiwing van bedrywighede.

Die maatskappy het daarop gewys dat ‘n 30%-VSA-tarief op Suid-Afrikaanse uitvoere sy uitvoerbedrywighede ernstig benadeel het. Alhoewel dié spesifieke tariewe later geskrap is, was die kommersiële lewensvatbaarheid van die uitvoersegment reeds swaar benadeel.

Ongeveer 25% van Swartland se totale produksie is toegewy aan uitvoer, met ongeveer 70% van daardie goedere wat na Amerika gaan. In die uitvoerafdeling alleen werk ongeveer 350 mense, wat ‘n beduidende deel van die arbeidsmag in onmiddellike gevaar geplaas het.

Groei tot nasionale reus

Die Swartland-verhaal het in 1951 in die klein dorpie Moorreesburg begin, niks meer as ‘n paar koringlande noord van Kaapstad nie. Oupa Hanekom het die plaaslike gemeenskap van hardeware en elektriese goedere voorsien, maar sy ambisies het ver verby die grense van Moorreesburg gestrek. Dit het nie lank geduur voordat skrynwerk Swartland se spesialiteit geword het nie.

Toe Oupa se seun, Oom Jurgens, die teuels oorgeneem het, het hy nuwe idees na die onderneming gebring. Een daarvan was sy persoonlike filosofie van “voortdurende verbetering”.

Vandag, onder die leierskap van die derde generasie Hanekoms – Jurie, James en Hans – is hierdie begeerte om voortdurend te verbeter ‘n integrale deel van die Swartland-kultuur.

Dis ‘n plek waar tradisionele waardes, soos harde werk en trots, in harmonie met nuwe tegnologie en geïnspireerde idees leef.

Die maatskappy het hom sedert 1951 as ‘n multifaset-boumateriaalvervaardiger gevestig wat benewens verskeie venster- en deurreekse ook motorhuisdeure, isolasieplate en kroonlyste vervaardig.

Wat bly oor?

Swartland behou sy primêre hoofkantoor en ‘n vervaardigingsfasiliteit in Moorreesburg – waar dit alles begin het – tesame met sy Boskor-saagmeule in die Tsitsikamma-streek.

Die maatskappy het nie aangedui hoe- veel poste geraak kan word nie en of enige spesifieke bedrywighede of fasiliteite

beïnvloed kan word as gevolg van die herbelyning nie.

Die konsultasieproses is aan die gang en geen verdere inligting is op hierdie stadium vrygestel nie.

Swartland het gesê sy prioriteit bly om werknemers deur die konsultasie-

proses te ondersteun terwyl die volgehoue volhoubaarheid van die maatskappy verseker word.

◘ Bykomende bron: News24

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 2 July 2026
    Weslander E-Edition – 2 June 2026

Gift this article