Kaapse vroue ontvoer, een vermoor, een moet naak vlug


Die polisie ondersoek tans aanklagte van moord, poging tot moord en motorkaping nadat een van die twee vroue wat vermoedelik in Kraaifontein in hul voertuig gekaap is, se lyk op Maandag 11 Mei in ‘n uitgebrande voertuig in Atlantis gekry is.

Die ander vrou het ontvlug en was genoop om naak te gaan hulp soek. Sy kry tans mediese behandeling in die Wesfleur-hospitaal.

Die toneel waar die polisie een van die gekaapte vroue se liggaam gevind het. Foto: Murphy Roberts

Volgens ’n ingeligte bron het ‘n groep van ses mans die twee vroue op Sondag 10 Mei in Kraaifontein in hul motor gekaap. Hulle is van daar na Atlantis geneem.

Volgens kapt. Lisa Munro, polisiewoordvoerder, is die moord in die Atlantis-nywerheidsgebied gepleeg. Munro het benadruk dat die ondersoek nog in ’n vroeë stadium is, en kon nie enige verdere besonderhede oor die oorsaak van die oorledene se dood verskaf nie. Die oorledene se naam is nog nie bekend nie, omdat haar geliefdes nog oor haar dood ingelig moet word.

Munro kon ook nie bevestig of daar enige seksuele misdrywe gepleeg is nie.

Volgens gerugte is dit die slagoffers se motor wat uitgebrand is, maar Munro kon nie bevestig of die oorledene nog gelewe het toe die motor aan die brand gesteek is nie.

Met WeskusNuus se besoek aan die toneel was die oorledene se oorskot reeds verwyder.

Munro kon wel bevestig dat aanklagte van motorkaping, moord en poging tot moord ondersoek word. Sy het gesê dat nog klagtes moontlik bygevoeg gaan word.

Volgens Munro is geen verdagte nog in verband met dié voorval aangekeer nie.

  • Dit is ‘n brekende nuusstories. Hou WeskusNuus dop vir ‘n opdatering.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 12 May 2026
    WeskusNuus E-Edition – 12 May 2026

Gift this article