ATLANTIS – Drie mans sal binnekort in die Atlantis-landdroshof verskyn nadat hulle Saterdagoggend (11 Julie) ná ‘n jaagtog vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen in hegtenis geneem is nadat die polisie hulle vinnig ingehaal het.
Volgens die Wes-Kaapse polisie het lede van Atlantis-polisie se misdaadvoorkomingseenheid ‘n verdagte voertuig omstreeks 07:45 in Dassenbergweg opgemerk.
Toe die polisie die bestuurder beveel om stil te hou, het hy glo geweier en weggejaag. ‘n Jaagtog het gevolg, waartydens polisielede gesien het hoe ‘n vuurwapen uit die voertuig gegooi word.
Die voertuig is kort daarna tot stilstand gebring. Die drie insittendes is na die plek geneem waar die vuurwapen weggegooi is en in hegtenis geneem.
Die polisie het op die vuurwapen en die voertuig vir verdere ondersoek as bewysstukke beslag gelê.
Die drie verdagtes sal na verwagting binnekort in die Atlantis-landdroshof op aanklag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen verskyn.
Intussen het Operasie Restore ook die afgelope naweek tot verskeie ander inhegtenisnemings in die Kaapse metropool gelei.
In Kraaifontein is twee mans, onderskeidelik 49 en 41 jaar oud, in afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem nadat die polisie dagga, tik, mandrax, ecstasy en kontant wat vermoedelik uit dwelmhandel afkomstig is, tydens klopjagte gevind het.
In Delft is ‘n 20-jarige man aangekeer nadat hy na bewering in die besit van ‘n nagemaakte vuurwapen en ammunisie betrap is.
In Samora Machel is ‘n 21-jarige man in hegtenis geneem nadat die polisie op ‘n voorraad bier en appelwyn (cider) beslag gelê het.
Hy kon na bewering nie ‘n geldige dranklisensie toon nie en word daarvan verdink dat hy alkohol onwettig verkoop het.





