SALDANHA – ‘n Gespesialiseerde landmeter wat onlangs werk vir die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) voltooi het, is deur die Wêreldbank vir 29 maande gediskwalifiseer nadat hy aanspreeklikheid aanvaar het vir bedrieglike en sameswerende praktyke in Mosambiek.
African Consulting Surveyors (ACS) en sy eienaar, Willie Timmerman, is op Donderdag 10 September deur die Wêreldbank gesanksioneer oor hul optrede in verband met twee kontrakte onder die Mozambique Land Administration Project, bekend as Terra Segura.
ACS was bewus van die Wêreldbank se ondersoek toe die maatskappy in November 2025 vir ‘n munisipale tender by die SBM aansoek gedoen het, het Timmerman erken. Die ondersoek het egter op daardie stadium nog nie tot ’n bevinding, sanksie of beperking teen ACS gelei nie.
Die skikking en sanksie het eers in September vanjaar in werking getree, nadat die munisipale kontrak in Februarie vanjaar toegeken en die werk voltooi is. Volgens Timmerman is die munisipaliteit nie voor die toekenning oor die ondersoek ingelig nie.

Hy het gesê die munisipale tenderdokumente, spesifiek vorm MBD 8, vereis dat ACS verklaar of die maatskappy op die Nasionale Tesourie se databasis van beperkte verskaffers of die Register vir Tenderwanbetalers verskyn, en of daar binne die voorafgaande vyf jaar ’n hofbevinding van bedrog of korrupsie teen die maatskappy was. “ACS het ten tyde van die tender nie aan enige van hierdie gespesifiseerde diskwalifikasiegronde voldoen nie en doen steeds nie,” het Timmerman gesê.
ACS het intussen die lugfotografie-kontrak ter waarde van R454 250 voltooi.
Timmerman het Vrydag 2 Oktober op navrae gereageer, maar gesê hy kan nie verdere besonderhede oor die aangeleentheid verskaf voordat hy die Wêreldbank se toestemming ingevolge die skikkingsooreenkoms verkry het nie. “Die Wêreldbank se gepubliseerde verklaring bevat sy opsomming van die aangeleentheid.”
Valse verklarings en omkopery
Volgens die Wêreldbank het ACS twee kontrakte onder Terra Segura as deel van ‘n gesamentlike onderneming bekom. Tydens die tenderproses het Timmerman ‘n dokument onderteken waarin hy verklaar het dat ACS geen kommissies, fooitjies of fooie in verband met die kontrakte betaal het of sou betaal nie.
Die Wêreldbank se verklaring lui verder dat ACS egter wel sake-ontwikkelingskonsultante in verband met die kontrakte betaal het, sonder om dié betalings bekend te maak.
Die Wêreldbank het ook bevind dat ACS vooraf toegang tot vertroulike verkrygingsinligting, waaronder konsep-tenderdokumente, deur derdeparty-bemiddelaars verkry het. Volgens die Wêreldbank het ACS dié inligting gebruik om die tegniese spesifikasies van kontrakte te beïnvloed en sodoende ‘n onregverdige mededingende voordeel te verkry.
ACS en Timmerman het in ‘n skikkingsooreenkoms skuld erken. Die Wêreldbank het die tydperk van diskwalifikasie tot 29 maande verminder omdat hulle met die ondersoek saamgewerk, vrywillig aan Wêreldbank-projekte onttrek en self stappe gedoen het om die oortredings reg te stel.
Timmerman het beklemtoon dat die aangeleentheid nie betwis of geappelleer is nie. “Die aangeleentheid is deur ‘n onderhandelde skikking afgehandel. Die sanksie is ‘n administratiewe verkrygingsmaatreël ingevolge die Wêreldbank se eie reëls. Dit is nie ‘n strafregtelike hofuitspraak of skuldigbevinding nie.”
Die sanksie kan slegs onder sekere voorwaardes opgehef word. ACS en Timmerman moet maatreëls instel om etiese nakoming te verseker, opleiding oor korporatiewe etiek voltooi en voortgaan om met die Wêreldbank se eenheid vir integriteitsondersoeke saam te werk.
Die Terra Segura-projek is ingestel om grondbesit in bepaalde distrikte van Mosambiek te beveilig, grondadministrasiedienste te verbeter en noodhulp te bied in reaksie op ‘n gewapende opstand in die noorde van die land.
Die sanksie kwalifiseer vir kruisdiskwalifikasie deur ander multilaterale ontwikkelingsbanke onder ‘n ooreenkoms wat in 2010 onderteken is. Deelnemende instellings sluit in die African Development Bank, Asian Development Bank, European Bank for Reconstruction and Development en Inter-American Development Bank.
Volgens Timmerman was die toekenning van die munisipale kontrak eerlik en openlik. “SBM 06/25/26 was ‘n openbare mededingende tender waarvoor ses aanbiedinge ontvang is. Dit is deur die munisipaliteit se gewone voorsieningskanaalprosesse geëvalueer, deur die Bodtoekenningskomitee goedgekeur en onderhewig aan ‘n appèltydperk van 21 dae toegeken.”
Hy het beklemtoon dat ACS nie ten tyde van die toekenning gesanksioneer was nie. “Die latere Wêreldbank-sanksie verbied ACS ook nie om munisipale kontrakte in Suid-Afrika uit te voer nie. Die projek is volledig en volgens die kontrakspesifikasies afgehandel.”
Munisipaliteit bestudeer uitspraak
ACS is in 2000 gestig en spesialiseer in gevorderde landmeettegnologie, insluitend lugfotografie, LiDAR-skandering, 3D-kartering en hidrografiese opnames. Die maatskappy is reeds meer as 20 jaar in Langebaan gevestig en het van ‘n span van drie mense tot een van die groter spesialis-opmetingsmaatskappye in Suid-Afrika en Afrika gegroei. Dit bied tans werk aan meer as 60 mense.
Volgens Micaela Williams-Van Wyk, munisipale woordvoerder, was ‘n kontrak vir lugfotografie van die hele Saldanhabaai-gebied gedurende die 2025/26-finansiële jaar die enigste kontrak wat aan ACS of enige maatskappy waarin Timmerman ‘n belang het, toegeken is.
Die munisipaliteit sê hulle het “eers onlangs” van die Wêreldbank se aankondiging kennis geneem en bestudeer tans die uitspraak. “Die Munisipaliteit kan hangende hierdie proses nie verdere kommentaar hieroor lewer nie.”
Williams-Van Wyk het egter beklemtoon dat SBM van mening is dat verskaffers wat hulle aan bedrieglike of sameswerende praktyke skuldig maak, toepaslik aanspreeklik gehou moet word en, waar die wet dit toelaat, nie toegelaat behoort te word om verdere besigheid met die regering te doen nie. Die munisipaliteit handhaaf volgens Williams Van-Wyk ‘n zero-toleransiebeleid teenoor bedrieglike en sameswerende praktyke.
Gedurende die tenderprose ondersoek SBM verpligte dokumentasie soos die MBD 4 (Verklaring van Belange), MBD 8 (Verklaring van Tenderaars se Vorige Verkrygingspraktyke) en MBD 9 (Sertifikaat van Onafhanklike Tenderbepaling). “Hierdie maatreëls is daarop gerig om bedrieglike en sameswerende praktyke te voorkom, asook om die risiko van moontlike onreëlmatige uitgawes te beperk,” het Williams-Van Wyk gesê.
Leerervaring vir ACS
ACS het in die betrokke tydsgleuf “honderde projekte vir munisipale, openbare en private kliënte in Suid-Afrika en internasionaal suksesvol voltooi,” het Timmerman gesê. “Hierdie aangeleentheid moet ernstig hanteer word, maar behoort ook in die konteks van ACS se volledige rekord oor meer as twintig jaar beoordeel te word.”
Hy het gesê die maatskappy beskou dit as ‘n belangrike leerervaring. “Ons gebruik die proses om ons tenderbeheer en derdeparty-ondersoeke verder te versterk. ACS bly verbind tot kwaliteit, integriteit, sy werknemers, sy kliënte en die gemeenskap waarin die onderneming opgebou is.”






You must be logged in to post a comment.