Die Saldanhabaai met die hawe in die agtergrond. Foto: Alida Buckle
Die Saldanhabaai met die hawe in die agtergrond. Foto: Alida Buckle

Valke ondersoek Saldanhabaai-munisipaliteit oor tenderverlengings


SALDANHA – Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (die Valke) ondersoek tans bewerings van onreëlmatighede in die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se uitbreiding van meer as 30 konsultasie- en ingenieurskontrakte.

AO Zinzi Hani van die Valke het op 4 Junie aan Weslander bevestig dat die saak – genommer 26/18/2 (2647) by die Ondersoekafdeling vir Ernstige Kommersiële Misdaad van die Valke in Bellville – met hulle is en tans ondersoek word.

Die Saldanhabaai met die hawe in die agtergrond. Foto: Alida Buckle
Die Saldanhabaai met die hawe in die agtergrond. Foto: Alida Buckle

Die munisipaliteit hou vol dat hulle nog nooit formeel deur die Valke in kennis gestel is van ‘n ondersoek nie. “Ons was nog nooit deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (die Valke) in kennis gestel van ‘n ondersoek teen die munisipaliteit op grond van enige bewerings, soos die van STOPP, nie,” het Tereza Burger, kommunikasiebeampte van SBM, gesê.

STOPP se klagte

Die ondersoek volg op ‘n klagte deur STOPP (Services to Our People’s Party) oor Raadsresolusie R68/6-25, wat op 11 Junie 2025 aangeneem is.

Volgens STOPP het die resolusie meer as 30 konsultasie- en ingenieurskontrakte op ‘n onbepaalde maand-tot-maand-grondslag verleng.

Die party beweer die munisipaliteit het Artikel 116(3) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuurswet (Wet 56 van 2003) misbruik om die vereistes vir openbare deelname te omseil.

Een van STOPP se kernbewerings is dat die openbare kennisgewing eers ná die raadsbesluit uitgereik is – die resolusie is op 11 Junie 2025 aangeneem, maar die kennisgewing is eers op 12 Junie 2025 gepubliseer.

STOPP beweer verder dat geen geldelike waardes bekendgemaak is nie, dat die tydsduur onbepaald is, en dat onbeperkte bevoegdhede aan die Munisipale Bestuurder gedelegeer is.

Die party het “administratiewe misbruik” en “moontlike kriminele optrede” aangevoer.

SBM se verdediging

Die munisipaliteit verdedig die kontrakwysigings as volkome wettig in terme van Artikel 116(3) van die Wet.

Volgens Burger laat die Wet toe dat munisipaliteite kontrakte mag wysig, mits die redes daarvoor voor die Raad gedien word, die plaaslike gemeenskap redelike kennis gegee word, en uitgenooi word om voorleggings in te dien. “Die munisipaliteit het aan al hierdie vereistes voldoen,” het Burger beklemtoon.

STOPP het ná die 11 Junie 2025-raadsvergadering ‘n voorlegging ingedien, en die munisipaliteit het ‘n tweede vergadering op 30 Junie 2025 gehou om die insette via Raadsresolusie R75/6-25 te oorweeg.

Burger het gesê die kontrakwysigings hou verband met twee tenders – SBM 50/18/19 (2019) en SBM 37/21/22 (2022) – wat betrekking het op die Paneel van Ingenieursdienste.

Volgens die munisipaliteit reik hulle elke drie jaar ‘n nuwe tender uit om ‘n paneel van ingenieurs aan te stel. Die jongste tender is SBM 32/24/25 (2025).

“Sommige van die veeljarige kontrakte neem langer om te voltooi as wat die aanvanklike drie jaar tenderperiode is,” het Burger verduidelik. “Dit is nie prakties of koste-effektief om ‘n nuwe firma aan te stel indien die werk reeds, byvoorbeeld, 80% voltooi is nie.”

Die munisipaliteit het in 2020 advies by die Nasionale Tesourie verkry. Die Tesourie het bevestig dat dit wettig korrek is om ‘n persoon of ingenieursfirma op ‘n paneeltender enige tyd voordat die tender verval, aan te stel.

In STOPP se voorlegging het die party onder andere vereis dat alle verlengde kontrakte onmiddellik beëindig word.

Die munisipaliteit het die eis as onprakties verwerp. “Dit sal dienslewering op verskeie projekte opskort, tot onnodige tydsverkwisting lei, en kostes verhoog omdat ‘n nuwe konsultant dan aangestel moet word om ‘n ander se halfvoltooide werk klaar te maak,” lui die munisipaliteit se antwoord.

Skoon ouditrekord

SBM het beklemtoon dat die Ouditeur-Generaal die kontrakwysigings geoudit het en dit in orde gevind het.

Burger het verwys daarna dat die munisipaliteit in die laaste elf jaar 10 skoonoudits (ongekwalifiseer met geen bevindinge) ontvang het. In 2017/18 was die ouditbevinding ongekwalifiseerd met bevindinge. “Daar is geen stappe geneem teen enige amptenaar op grond van R68/6-25 nie, want die munisipaliteit het binne die Wet opgetree,” het Burger gesê.

Ten spyte van die Valke se bevestiging dat die saak ondersoek word, hou die munisipaliteit vol dat hulle nog geen formele kennisgewing ontvang het nie. “Daar is tans geen ondersoek nie,” het die munisipaliteit in sy reaksie gesê.

Die munisipaliteit het egter bevestig dat hulle sal saamwerk met enige ondersoek, indien een onderneem word. “Die Raad is verbind tot deursigtigheid oor hierdie aangeleentheid en enige ander aangeleentheid,” het Burger gesê.

Burger het benadruk dat die munisipaliteit ‘n onafhanklike Verkrygingsbestuursafdeling het wat die nakoming van alle tenders monitor.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 11 June 2026
    Weslander E-Edition – 11 June 2026

Gift this article