Uitgelese gaste en lede van die media het dié bekendstelling meegemaak. Foto: Danie Hefers

Transnet vier belangrike mylpaal met terminaal


Die Saldanha-ystererts-terminaal, Afrika se grootste uitvoerfasiliteit vir ystererts en Suid-Afrika se enigste toegewyde ysterertsuitvoerpunt, het op Woensdag 3 Junie ‘n belangrike mylpaal in sy Tippler 3-projek bereik met die begin van toets- en ingebruiknemingsaktiwi­teite.

Die Saldanha-terminaal ver­werk sowat 96% van Suid-Afri­ka se uitvoer-ystererts en vervul ‘n kritieke rol in die land se mynbou- en logistieke uitvoernetwerk.

Die infrastruktuurprojek van meer as R4 miljard sluit die ontwikkeling van Tippler 3 en gepaardgaande werk soos ‘n Eskom-substasie, padbrûe en stofbeheermaatreëls in.

Dit is van stapel gestuur om ou stortwa-infrastruktuur te vervang en die terminaal se bedryfsbetroubaarheid en langtermynvolhoubaarheid te verbeter.

Die geleentheid is bygewoon deur Michelle Phillips (uitvoerende hoof van Transnet), Andile Sangqu (voorsitter van die Transnet-raad), Boffie Strydom (Wes­kus-distriksmunisipaliteit se burgemeester), Jabu Mdaki (uitvoerende hoof van Transnet se haweterminale), Transnet-raadslid Dipak Patel, bedryfshoof Solly Letsoalo asook die raadslede Pearl Zambane en Boitumelo Sedibane.

Volgens Sangqu betree Transnet nou die finale fase van die projek met hernude fokus.

“Ons is nederig omdat ons weet baie werk lê nog voor. Transnet se herstel is nog nie voltooi nie. Ons het steeds uitdagings wat met eerlikheid, dringendheid en dissipline die hoof gebied moet word. Tog is ons vol vertroue, want hierdie mylpaal wys wat moontlik is wanneer kundigheid, vennootskappe en ‘n gedeelde visie vir ‘n gemeenskaplike doel saamwerk.

“Hierdie prestasie behoort aan die werknemers, projekspanne, kliënte, vennote en die gemeenskap wat steeds hier­die strategiese nasionale bate ondersteun en huisves,” het hy gesê.

Strydom het die ontwikke­ling verwelkom en die belang van samewerking tussen die openbare en private sektor beklemtoon.

“Dit gaan oor samewerking, ekonomiese ontwikkeling en werkskepping vir ons gemeenskappe, en uiteindelik die verbetering van die hele Weskus,” het hy gesê.

Die toets- en ingebruik­nemingsfase is deel van die groter bouproses voordat die projek finaal vir bedryfsgebruik oorhandig word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 11 June 2026
    Weslander E-Edition – 11 June 2026

Gift this article