NG Kerk Saldanha word 60.
NG Kerk Saldanha word 60.

NG Kerk Saldanha vier 60 jaar van geloof en gemeenskap


SALDANHA – NG Kerk Saldanha vier tussen Woensdag 22 en Sondag 26 Julie sy 60ste bestaansjaar met ‘n feesweek waartydens die gemeente terugkyk op ses dekades van geloof, diens en betrokkenheid by die Saldanha-gemeenskap.

Die gemeente is op 22 Julie 1966 gestig nadat die destydse burgemeester van Saldanha, oom Sarel Carstens, saam met Kobus Rabe en Willem Loubscher hulle beywer het om die afstigting van Vredenburg Moedergemeente moontlik te maak. Hulle moes onder meer bewys dat die nuwe gemeente ‘n predikant sou kon bekostig voordat goedkeuring verleen is. Die kerksaal is eerste opgerig, terwyl die huidige kerkgebou in 1978 voltooi is.

Die NG Kerk Saldanha gebou.
Die NG Kerk Saldanha gebou.

Volgens die gemeente is daar oor die jare talle hoogtepunte beleef. Dit sluit die bevestiging van ds. J.H. Minnaar as eerste predikant, uitreike na Mosambiek, die ontstaan van sopkombuise, die verwelkoming van die Saldanha Militêre Gemeente en jarelange betrokkenheid by Biblia Hawesending en die Amazing Brainz-projek in.

Die gemeente het saam met Saldanha gegroei toe die hawe uitgebrei is, die Sishen-Saldanha-spoorlyn ontwikkel is en die Militêre Akademie gevestig is. Lidmaattalle het só toegeneem dat daar vir ‘n tyd twee eredienste op Sondae gehou is.

Met veranderende demografie het die gemeente egter ook aangepas. Vandag word een erediens per Sondag gehou, maar die gemeente is steeds bekend vir sy hartlike atmosfeer waar lidmate reeds voor die diens saam kuier en koffie geniet.

Deur die jare het NG Kerk Saldanha ‘n aktiewe rol in die gemeenskap gespeel deur voedselhulp aan behoeftige gesinne, ondersteuning aan instansies soos Huis Wittekruin en ander versorgingshuise, asook die beskikbaarstelling van sy fasiliteite aan gemeenskapsorganisasies.

Lidmate onthou ook geliefde tradisies soos die Kersspelle deur Esta Steyn, gemeentekonserte, Paasvieringe, blomuitstallings en die jaarlikse “Pik en Proe“, wat vandag nog ‘n gewilde instelling is.

Feesprogram

Die feesweek begin Woensdag 22 Julie met ‘n Dag van Musiek van 09:00 tot 17:00. Vrydag volg ‘n Praise & Worship-aand vir hoërskooljeug. Die vieringe word op Sondag 26 Julie afgesluit met ‘n feestelike erediens waartydens die bekende sanger Deon Meiring optree, gevolg deur ‘n talentuitstalling tydens tee en ‘n feesmaal in die Weskusskoolsaal.

Die feesprogram.
Die feesprogram.

Hoewel die fees ‘n belangrike mylpaal vier, sê die gemeente die fokus is op dankbaarheid.

“Ons feesvieringe is ‘n uitdrukking van ons dankbaarheid teenoor God vir Sy liefde, trou, genade en goedheid deur die afgelope 60 jaar.”

Die gemeente nooi die breër Saldanha-gemeenskap uit om die Dag van Musiek, Praise & Worship, die feestelike erediens en die talentuitstalling saam te kom geniet.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 16 July 2026
    Weslander E-Edition – 16 July 2026

Gift this article