Die NG Kerk Saldanha-gemeente se 60 jaar-viering het gister (Woensdag 22 Julie) begin.
Die kerk vier sy 60ste bestaansjaar met ‘n feesweek wat tot Sondag 26 Julie duur en waartydens die gemeente terugkyk na ses dekades van geloof, diens en betrokkenheid by die Saldanha-gemeenskap.
Die gemeente is op 22 Julie 1966 gestig nadat die destydse burgemeester van Saldanha, Sarel Carstens, saam met Kobus Rabe en Willem Loubscher hul beywer het om die afstigting van die Vredenburg Moedergemeente moontlik te maak. Hulle moes onder meer bewys dat die nuwe gemeente ‘n predikant sou kon bekostig voordat goedkeuring verleen is.
Die kerksaal is eerste opgerig, terwyl die huidige kerkgebou in 1978 voltooi is.
Volgens die gemeente is daar oor die jare talle hoogtepunte beleef. Dit sluit in die bevestiging van ds. J.H. Minnaar as eerste predikant, uitreike na Mosambiek, sopkombuise, die verwelkoming van die Saldanha Militêre-gemeente en jarelange betrokkenheid by Biblia Hawesending en die Amazing Brainz-projek.
Die gemeente het saam met Saldanha gegroei toe die hawe uitgebrei, die Sishen-Saldanha-spoorlyn ontwikkel en die Militêre Akademie gevestig is. Die getal lidmate het só toegeneem dat daar vir ‘n tyd lank twee eredienste op Sondae gehou is. Met ‘n veranderende demografie het die gemeente egter ook aangepas.
Die feesweek het met ‘n musiekdag begin. Môre (Vrydag) volg ‘n Praise & Worship-aand vir hoërskooljeug.
Die viering word Sondag afgesluit met ‘n feestelike erediens waar die bekende sanger Deon Meiring sal optree, gevolg deur ‘n talentuitstalling en tee, asook ‘n feesmaal in die Weskusskoolsaal.
Hoewel die fees ‘n belangrike mylpaal vier, sê die gemeente die fokus is op dankbaarheid.
“Ons feesvieringe is ‘n uitdrukking van ons dankbaarheid teenoor God vir Sy liefde, trou, genade en goedheid deur die afgelope 60 jaar.”
Die gemeente nooi die breër Saldanha- gemeenskap uit om die vieringe saam te kom geniet.





