Die Pinkster Protestante Kerk se Vredenburg-gemeente berei voor vir sy vyfde jaarlikse uitreik na afgeleë gemeenskappe in die Kalahari, met die doel om ondersteuning en praktiese hulp aan inwoners van Noenieput, Swartkopdam en Philandersbron te bied. Die uitreik vind van Woensdag 5 tot Maandag 10 Augustus plaas en fokus op opheffing.
Volgens pastoor Rynier Nolan ervaar inwoners van dié afgeleë gebiede uitdagings soos armoede, werkloosheid, beperkte toegang tot gesondheidsorg en isolasie weens hul afstand van groter dorpe.
Die Vredenburg-gemeente het by dié gemeenskappe betrokke geraak nadat die sendingleier, Lood van der Walt, hulle aan die sendeling HJ Cronjé voorgestel het. Cronjé woon in Noenieput en het die gemeente bewus gemaak van die uitdagings waarmee inwoners te doen kry. Selfs basiese benodigdhede soos brood is nie maklik bekombaar nie, aangesien die naaste groot winkels sowat 160 m ver is.
“Ons wou nie net vir hulle bid of geld stuur nie. Ons wou self na hulle toe gaan, hulle in die oë kyk en ondersteun waar ons kan,” sê Nolan.
‘n Groep van 12 gemeentelede sal vanjaar die reis aanpak.
Ondersteun die uitreik deur nie-bederf- bare kos, klere, skoene of ‘n finansiële bydrae vir brandstof te skenk. Skenkings kan by PPK Vredenburg, Uranusstraat 14, Vredenburg, afgelewer word.
Konttak pastoor Rynier Nolan by 074 130 7607 vir nog inligting.





