SALDANHA – Jongmense van reg oor die Weskus word genooi na ‘n aand van lofprysing, aanbidding en kuier wanneer die NG Kerk Saldanha-gemeente se jeugbediening op Vrydag 24 Julie ‘n spesiale jeugaand aanbied.
Die geleentheid vind van 19:00 tot 21:00 by die NG Kerk in Saldanha plaas, as deel van die gemeente se 60ste bestaansjaarvieringe.
Alle jongmense van gr.7 tot 12 is welkom. Hoewel die fokus op tieners is, word ouers en jong werkendes ook uitgenooi om die aand by te woon.
Benewens lofprysing en aanbidding kan besokers uitsien na ‘n gesellige kuier, die geleentheid om nuwe vriende te maak en iets lekker te eet.
‘n Hoogtepunt van die aand is die eerste optrede van ‘n spesiale Weskus-jeuggroep wat saamgestel is uit musikante van NG Kerk Saldanha, NG Kerk Velddrif en Beacon Church in Langebaan.
Die organiseerders hoop om sowat 200 tieners by die geleentheid te verwelkom en moedig jongmense aan om hul vriende saam te nooi.
◘ Kontak Tiaan Pretorius, jeugwerker van NG Kerk Saldanha, by 072 547 8589 vir nog inligting.





