Vir vyf dae al leef ‘n familie met die verskriklike onsekerheid van ‘n 75-jarige ma en ouma wat spoorloos verdwyn het.

Elke oproep laat hul hart vinniger klop. Elke uur sonder nuus voed hoop én vrees. Daar is min dinge wreder as om nie te weet waar ‘n geliefde hom of haar bevind nie.

Intussen moes ‘n ander Weskus-familie die oggend voor die ontnugtering te staan kom van ‘n gesonde jong, fikse rugbyspeler, vol planne en lewe, wat nie weer uit sy slaap wakker geword het nie.

Sonder waarskuwing is hy uit die lewe geruk.

Teen hierdie agtergrond voel die groot geraas rondom die March and March-veldtog amper onwerklik.

In die Weskus het dit skaars ‘n rimpeling veroorsaak. Miskien is dit omdat Weskusmense ander prioriteite het.

Ons is moeg vir verdeeldheid, politieke spektakel en die voortdurende soeke na konfrontasie.

Ons wil gesinne veilig huis toe sien kom, werk hê, kinders grootmaak en ons bure met respek behandel, maak nie saak of hulle in Suid-Afrika gebore is of oorspronklik van Switserland of Kenia kom nie.

Die Weskus se krag lê nie in hoe hard sy mense skree nie, maar in hoe hulle opdaag wanneer dit regtig saak maak. Saam soek na ‘n vermiste buurvrou. Kos aandra na ‘n familie in rou.

Vir mekaar bid, troos bied en daadwerklik ondersteun, nie net in teksboodskappe medelye oordra nie, maar ‘n hand bysit en vashou. Luister en net daar wees.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 16 July 2026
    Weslander E-Edition – 16 July 2026

Gift this article