Wyle dr. Christo Smith

Geliefde arts van Weskus oorlede


Die Weskus treur oor die afsterwe van een van sy mees geliefde medici, dr. Christo Smith.

Smith is verlede Woensdag (8 Julie) onverwags aan natuurlike oorsake in sy spreekkamer in Langebaan oorlede. Hy laat ‘n leemte wat nie maklik gevul sal word nie.

Vir langer as 30 jaar was hy ‘n bekende gesig in spreekkamers, hospitale en gemeenskappe oor die Weskus heen. Vir sy pasiënte was hy ‘n dokter en terselfdertyd ‘n mens wat tyd gemaak het om te luister, hoop te gee wanneer alles donker gelyk het en dikwels meer gedoen het as wat sy beroep ooit van hom sou verwag.

Sedert die nuus van sy afsterwe be- kend geword het, stroom huldeblyke op sosiale media in. Elkeen is uniek en benadruk dat Smith sy pasiënte eerste gestel en opreg vir mense omgegee het.

Piet Christo Smith is op 21 Augustus 1961 in Cathcart in die Oos-Kaap as die oudste kind van Pieter en Anna Smith gebore. As pastorieseun het hy sy vroeë kinderjare op Aurora aan die Weskus deurgebring, ‘n streek wat later sy tuiste sou word en die gemeenskap waaraan hy sy lewe sou wy.

Hy het aan die Hoërskool Bellville gematrikuleer voordat hy die grade MB.Ch.B. en B.Sc. Voeding aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het. Ná sy gemeenskapsdiens by die Vredenburg Provinsiale Hospitaal in 1992 het hy sy loopbaan as huisdokter daar begin, voordat hy saam met dr. Edgar Appies ‘n privaatpraktyk begin het. Later het hy sy eie praktyk in Vredenburg gevestig, waar hy vir langer as twee dekades duisende mense behandel het.

Uitstaande traumadokter

Hoewel hy maklik kon spesialiseer, het hy doelbewus gekies om algemene praktisyn te bly. “Hy het geglo hy kan van groter waarde vir sy gemeenskap wees as huisdokter,” vertel sy familie.

Daardie keuse sou die lewe van ontelbare Weskussers raak.

Benewens sy privaatpraktyk was hy een van die stigterslede van die trauma-eenheid by die Life West Coast- privaathospitaal.

Volgens ‘n onafhanklike oudit deur PricewaterhouseCoopers is hy destyds deur pasiënte én personeel as ‘n uitstaande traumadokter geëvalueer, ‘n bewys van die respek wat hy onder kollegas en pasiënte geniet het.

Toe die privaatpraktyk en die Covid-19-pandemie hul tol eis, het Smith besluit om sy praktyk te sluit en sabbatsverlof by sy jongste broer in Kuilsrivier te neem. Die rustyd was egter van korte duur. Die Weskus het hom teruggeroep.

In 2025 het hy PCS Medical in Langebaan geopen. Ou en nuwe pasiënte het hom met ope arms verwelkom, en volgens die praktyk het mense byna daagliks ingestap vir mediese hulp en om hul waardering uit te spreek vir die verskil wat hy in hul lewe gemaak het.

Van kleins af het Smith besondere belangstelling in die natuur en biologiese wetenskappe gehad, en daardie nuuskierigheid het hom sy hele loopbaan deur vergesel.

Pasiënte onthou hom as ‘n dokter met buitengewone diagnostiese vermoëns, deeglike ondersoeke en ‘n rustige, empatiese manier waarop hy mense behandel het. Hy het nooit onderskeid tussen arm en ryk getref nie en elke pasiënt met dieselfde respek en waardigheid behandel.

Jaag self met pasiënt

Die verhale wat sedert sy afsterwe gedeel word, getuig hiervan. Een gesin vertel hoe hy op ‘n Saterdag sy spreekkamer oopgehou het om op hulle te wag. Toe hy besef hoe kritiek die situasie is, het hy hul familielid self in sy motor na die ongevalle-eenheid gejaag om seker te maak hulp word betyds ontvang.

Ander onthou hoe hy hulle deur hart- aanvalle, ernstige siektes en moeilike lewensfases begelei het. Vir baie het hy hul kinders in die wêreld gebring, geslagte lank na hul families omgesien en ‘n vriend en vertroueling geword.

Hy was ook bekend vir sy fyn humorsin. Een pasiënt vertel hoe hy tydens ‘n ondersoek gesê het: “Kyk vandag lank in my blou oë en jy sal klaar beter voel.” Daardie warmte en menslikheid het dikwels net soveel genesing gebring as die medisyne wat hy voorgeskryf het.

Benewens die wit jas, was Smith ‘n vierde Dan Karate-Do-sensei, skubaduiker, tuinier en diereliefhebber. Hy het daarvan gehou om saam met familie en vriende Suider-Afrika in sy geliefde Land Rover te verken, terwyl die plaaslewe vir hom ‘n plek van rus en vrede was.

By PCS Medical onthou personeel hom as iemand wat met opregte belangstelling na pasiënte omgesien het. Selfs te midde van ‘n besige praktyk het hy tyd gemaak vir die tuin wat hy by sy nuwe praktyk in Sleighstraat begin aanlê het.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 16 July 2026
    Weslander E-Edition – 16 July 2026

Gift this article