Inwoners van Huis Wittekruin het hul jaarlikse snoekbraai saam met die gemeentelede van die NG kerk Saldanha deurgebring.
Die geleentheid het op Saterdag 16 Mei plaasgevind.
‘n Groep geesdriftige snoekbraaiers het die braaivleisvure kom aandurf om vir inwoners heerlike snoek op die kole te kom braai.
Die NG kerk Saldanha kom braai jaarliks snoek vir die inwoners van dié ouetehuis, ‘n hoogtepunt op hul kalender.
Dié inisiatief het, volgens die vriendelike kerkkantoorpersoneel wat in die notules gaan soek het, al in 2005 begin. Dit was dus nou die sestiende keer dat gemeentelede dié liefdestakie verrig het. Hulle kon dit net in 2020 en 2021 nie doen nie.


