Alida Buckle
Die hofsaak teen die berugte vermeende sosialemediabedrieër Billy Lightfoot is tot Dinsdag 28 Julie uitgestel omdat die landdros die afgelope Dinsdag (19 Mei) nie beskikbaar was nie.
‘n Datum waarop die verhoor gaan begin, sal dan vasgestel word.
Lightfoot het die afgelope paar jaar verskeie kere in die Vredenburg-land- droshof op aanklagte van bedrog verskyn nadat hy na bewering mense wat landwyd moes verhuis, onder die name BA Transferals en Country Wide SA (Edms) Bpk, ingedoen het.
Hy is op 17 Februarie 2025 in die Paarl in hegtenis geneem nadat speurder-adjudant-offisier Hein Schmidlin van die Saldanha-polisie hom in die Paarl opgespoor en vasgetrek het.
Lightfoot het glo met ‘n pensioentrekker van Jacobsbaai se hele trek verdwyn. Sy het van Jacobsbaai na Springs verhuis, Lightfoot glo betaal, maar nooit weer haar meubels en ander eiendom ter waarde van R150 000 gesien nie.
Lightfoot is op 26 Februarie 2025 op borgtog van R5 000 vrygelaat en moet een keer per week by die Paarl-Sentraal- polisiekantoor aanmeld.
Die aangeklaagde loop mense na bewering met die trek van meubels en die vervoer van goedere in. Meer as 100 klagtes oor die land heen is teen Lightfoot aangemeld – in Piketberg, Paarl, Somerset-Wes, Bellville, Gordonsbaai, Pinelands, Mitchell’s Plein, Milnerton, Houtbaai, Tafelsig (Kaapstad), Knysna, George, Witbank, Lyttleton (Pretoria) en Linden (Johannesburg), Springs, Roodepoort, Honeydew, Kemptonpark (Johannesburg), Oudtshoorn, Welkom en Port Alfred.
Nóg klagtes word blykbaar in die Oos- en Noord-Kaap en Limpopo ondersoek, en verhuurders het ook al uitsettingsbevele teen hom verkry.
Klaers hou nou die asem op dat die saak in die Vredenburgse streekhof afgehandel word sodat hul sake kan begin.
Lesers word gewaarsku dat Lightfoot moontlik met sy bedrywighede op Facebook en Instagram voortgaan – onder meer onder die ondernemingsnaam
Alpha Logistics.





