KAAPSTAD – Die Staat het nou ‘n oud-polisieman van Vredenburg formeel aangekla van die driedubbele moord op ‘n polisiekontstabel en twee pasiënte by die New Somerset-hospitaal in Kaapstad in Mei 2022.
Volgens Eric Ntabazalia, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, is ‘n formele akte van beskuldiging vandag (Donderdag 6 Augustus) in die Wes-Kaapse hooggeregshof uitgereik teen Jean-Paul Malgas, die oudpolisieman van Vredenburg wat daarvan aangekla word dat hy drie mense in die hospitaal doodgeskiet het.
Die akte, onderteken deur SR Riley, adjunkdirekteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap, bevat tien aanklagte teen Malgas. Dit sluit drie aanklagte van moord, een van poging tot moord, twee van poging tot roof, een van roof, asook aanklagte van die besit van ‘n gevaarlike wapen, ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in.

Weslander het sedert Mei 2022 oor die saak berig, wat groot belangstelling op die Weskus ontlok het omdat Malgas en twee van die drie slagoffers bande met die streek het.
Gebeure by Hopefield en New Somerset
Die voorval het op 5 Mei 2022 begin toe Malgas na die Hopefield-polisiekantoor gegaan het om ‘n vermiste kind aan te meld. Volgens die akte van beskuldiging het beamptes opgemerk dat hy ‘n mes by hom gehad het. Toe hulle dit wou afneem, het Malgas na bewering sers. Christiaan Jacobus Le Fleur daarmee gesteek. Konst. Jamie-Lee Papier het waarskuwingskote afgevuur en Malgas in die maag gewond.
Malgas is na die Vredenburg- Provinsiale Hospitaal geneem waar hy glo onsuksesvol probeer het om sers. Richard Denzell Bester se dienspistool af te neem.
Die volgende dag is Malgas na die New Somerset-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas, waar hy volgens die akte weer probeer het om Bester se vuurwapen af te vat.
Op 7 Mei, nadat sy boeie verwyder en hy uit aanhouding ontslaan is, het hy die hospitaal verlaat.
Later dieselfde aand het hy na die saal teruggekeer. Volgens die akte van beskuldiging het hy ‘n gloeilamp gebreek en teen sy wond gehou, wat personeel ontstel het.
‘n Verpleegster het konst. Donay Delano Phillips van die Seepunt-polisie, wat ‘n ander pasiënt bewaak het, om hulp gevra. Tydens ‘n stoeiery is Phillips se dienspistool glo afgeneem en hy is in die kop geskiet, waarna twee pasiënte in ‘n ander saal, Liami Frankshwa Eckelton en Geret Carolus, noodlottig gewond is.
‘n Ervare verpleegster het Malgas uiteindelik gekalmeer en hom oorreed om die vuurwapen neer te lê voordat hy met ‘n verdowingsmiddel ingespuit en in hegtenis geneem is. Phillips is die volgende oggend in die Groote Schuur-hospitaal oorlede.
Volgens die akte van beskuldiging val Phillips se moord onder wetgewing wat ‘n minimum vonnis van lewenslange tronkstraf voorskryf omdat hy ‘n polisielid op diens was.
Die slagoffers
Phillips (32) was ‘n konstabel by die Seepunt-polisie en verloof aan Jodie Williams, ‘n onderwyser by Steenberg’s Cove Primêr in St. Helenabaai. Sy kollegas het hom as ‘n toegewyde en voorbeeldige polisieman beskryf.
Carolus (48), oorspronklik van Atlantis, het in Laingville, St. Helenabaai, gewoon. Hy was in die hospitaal nadat komplikasies weens diabetes tot die amputasie van sy been gelei het.
Eckelton was ‘n pasiënt in ‘n ander saal. Die polisie het aanvanklik gesukkel om sy familie op te spoor.
Vorige veroordelings
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskuspolisie, het gesê dat Malgas ‘n misdaadgeskiedenis het wat tot 2003 terugstrek. Hy was van 2003 tot 2006 by die Vredenburg-polisiekantoor werksaam voordat hy oneervol uit die polisiediens ontslaan is.
Verskeie sake, waaronder aanranding, dwelmhandel en die onwettige besit van ammunisie, is oor die jare teen hom gemaak, hoewel sommige teruggetrek is. Hy is wel in 2008 skuldig bevind aan die besit van vervalste note en in 2011 aan diefstal nadat hy Transnet-eiendom gesteel het. In 2021 is hy daarvan beskuldig dat hy ‘n polisielid by die Vredenburg-polisiekantoor aangerand het, maar dié saak is ook teruggetrek.
Helfrich het destyds gesê kollegas het hom tydens sy diensjare as ‘n goeie en ywerige polisieman geken.
Saak beweeg nader aan verhoor
Malgas het by sy eerste hofverskyning sy reg op borgtog laat vaar. Sy regspan het later aangevoer dat hy aan ernstige depressie en selfmoordneigings ly.
In 2023 is hy op bevel van die hof vir ‘n psigiatriese evaluasie na Valkenberg-hospitaal verwys. Weens ‘n tekort aan beddens het die proses maande vertraag, en die evaluasie het eers later plaasgevind. Die saak is daarna verder uitgestel terwyl die verslag afgehandel is.
Die uitreiking van die formele akte van beskuldiging is die jongste stap in die proses en dui daarop dat die saak nou nader aan verhoor beweeg.
Ntabazalila het gesê partye het vandag onder meer geargumenteer oor Malgas se geestesgeskiktheid om verhoor te word. Die saak is uitgestel tot 10 Desember 2026 vir uitspraak oor die bogenoemde kwessies.
Malgas bly in aanhouding.





You must be logged in to post a comment.