Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie:
Ses mans tussen 16 en 42 jaar het reeds verlede Donderdag (18 Junie) in die Moorreesburg-land-
droshof verskyn op aanklag van sakeroof. Hulle het na bewering omstreeks 20:20 ‘n winkel in Sirkelstraat op Jeugdag beroof. Volgens die 26-jarige Ethiopiese burger het dié ses beskuldigdes eers buite sy winkel rondgestaan. Hy het hulle herken omdat hulle hom en sy klante gereeld teister. Vier van die rowers het die winkel binnegegaan en die klaer met ‘n mes gedreig en geld geëis. Hulle het gevlug met die klaer se selfoon, R2 500 kontant en energiekoeldranke. Binne minute is vier beskuldigdes aangekeer en later die ander twee. Net R500 is teruggevind.
Op Vrydagaand (19 Junie) omstreeks 21:00 was ‘n 34-jarige vrou in die bed toe sy hoor haar kamerdeur gaan oop. Twee mans met klapmusse en donker klere het haar kamer binnegekom. Een van hulle het ‘n vuurwapen by hom gehad. Die rowers het die klaagster gevra waar haar selfoon is, en sy het dit oorhandig. Die rowers het geld gesoek waarop ‘n derde rower ook die woonstel betree het. Die rowers het met ‘n televisiestel, twee skootrekenaars, ‘n selfoon en ‘n haarknipper gevlug.
Mosuli Shumane (23) se lyk is op Maandagoggend (22 Junie) om 01:30 in Ekunenestraat in Middelpos, Saldanha, gekry. Hy het meswonde aan sy bors gehad. ‘n Verdagte is in hegtenis geneem. Sy klere was vol bloed en hy het nog die moordwapen – ‘n mes – by hom gehad. Hy het vandeesweek in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Meugel Fransman (31) is Saterdagaand (20 Junie) om 18:45 op die Hexrivier-pad naby Citrusdal omgery. Hy is met sy aankoms by die hospitaal oorlede. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare mansslag.
’n 17-jarige seun sal Vrydag 26 Junie in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord. Hy het na bewering op Saterdag 14 Junie om 00:30 ‘n 48-jarige man drie keer met ‘n panga oor die kop gekap.
Die man het mediese behandeling in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad ontvang. Die voorval het in Seemeeustraat, Louwville, plaasgevind.
’n 23-jarige man van Paternoster is Saterdagoggend (20 Junie) in die Vredenburg Provinsiale Hospitaal opgeneem nadat hy vroeër in die maag geskiet is. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.





