By elke vergadering oor misdaadsyfers op dorpe in die Weskus sal ‘n polisiebeampte óf rolspeler wat met slagoffers werk, dit beaam dat drankmisbruik die wortel van die meeste van die maatskaplike euwels is.
Huishoudelike geweld en onderonsies tussen vriende en familie oor drank en sigarette begin gewoonlik by die oormaatgebruik van drank.
Weslander publiseer hierdie week die dapper storie van ‘n vrou van Vredenburg wat die guts gehad het om te vertel hoe sy die hel van alkoholafhanklikheid oorwin het.
Die besluit om drank uit jou lewe te sny, het ‘n swaar koste.
Suid-Afrikaners drink en beskou enigiemand wat nié drank in oormaat gebruik nie, as weird; eenkant; nie een van óns nie. Dit kan mense wat diep in die bottel gekyk het en besluit het om dit eerder eenkant toe te gooi, baie alleen laat voel.
Dis ‘n eensame pad, dié van geheelonthouer. Nie baie mense kies die weg nie, want dit verg deursettingsvermoë en volharding.
Baie gaan kritiek uitspreek oor die persoonlike verhaal van oorwinning en groei, maar hopelik raak dit die regte persoon op die regte tyd aan.
In plaas daarvan om iemand wat hulself as “alkoholis” as deel van ‘n proses van heelwording brandmerk, te kruisig – kan ons nie liewer die mense wat dié nou paadjie gekies het, prys en aanmoedig nie?




