Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, die distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie.
* ‘n 16-jarige meisie is Donderdag 11 Junie om 07:50 in Donstraat in Diazville, Saldanha, deur drie onbekende mans oorval en met ‘n vuurwapen gedreig. Die booswigte het met die klaer se selfoon gevlug. ‘n Klagte van roof word ondersoek.
* ‘n Wit perd is tussen Vrydagaand (12 Junie) en Saterdagoggend (13 Junie) van ‘n plaas in die Porterville-omgewing gesteel. ‘n Klagte van diefstal word ondersoek.
* Skape ter waarde van R16 000 is tussen Vrydag-aand (12 Junie) om 18:00 en Sondagoggend (13 Junie) om 04:00 van ‘n plaas in Lutzville gesteel. Die polisie ondersoek ‘n klagte van diefstal.
* ‘n Eenjarige meisietjie is Saterdagoggend om 09:00 alleen in Ekuyasastraat in Diazville in Saldanha gevind. Niemand weet wie of waar haar ouers is nie. Maatskaplike werkers het die kind na ‘n veilige hawe geneem.
* ‘n 41-jarige man het Vrydag in die Vredenburg-landroshof verskyn nadat hy Donderdagoggend omstreeks 01:50 glo ‘n 27-jarige man in Louwville met ‘n mes gesteek het. ‘n Poging-tot-moord-saak word ondersoek.
* ‘n 28-jarige man het Donderdagoggend (11 Junie) net na 06:00 by ‘n spazawinkel in Renonkelstraat in Abbotsdale skote hoor afgaan. Die klaer het stilgestaan en ‘n man gesien wat hy elke dag sien, omgedraai en drie skote in die klaer se rigting afgevuur. Niemand is in die voorval beseer nie.
* ‘n Saak van poging tot moord en een van sakeroof word in Vredenburg ondersoek. Die klaer, ‘n 34-jarige Somaliese burger, was verlede Donderdagaand (11 Junie) omstreeks 19:30 nog besig om klante in sy winkel in Zambesistraat in Witteklip te help toe hy skote buitekant hoor. Daarop het drie onbekende mans die winkel binnegestorm en die klaer met twee vuurwapens gedrieg. Die rowers het geld uit die kasregister asook die klaer se selfoon gevat voordat hulle gevlug het. Die klaer het na buite gegaan en gesien dat sy broer, wat in ‘n blou Honda gesit het, wonde gehad het wat gebloei het. Die klaer se broer is in die gesig geskiet.
* ‘n Poging-tot-moord- en ‘n sakeroofsaak word in Louwville ondersoek. ‘n 29-jarige Etiopiese burger was Donderdagaand (11 Junie) om 19:10 was nog in sy winkel in Alfastraat in Saamstaan. Drie mans en ‘n vierde verdagte het buite die deur gestaan. Drie rowers binne die winkel het verskeie skote afgevuur; in daardie stadium was daar nog mense in die winkel en die klaer het skuiling gaan soek. Toe alles stil raak, het die klaer ondersoek gaan instel en ‘n man gevind wat in die gesig geskiet is. Die rowers het met ongeveer R41 000 kontant gevlug.
* Edgar Adams (37) het Maandag in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord nadat hy verlede Woensdag (10 Junie) om 18:45 langs ‘n familielid (47 jaar oud), wat besig was om te bestuur, gery en ‘n skoot na die familielid afgevuur het. Die voorval het in Langstraat in Piketberg gebeur. Niemand is in die voorval beseer nie.
* ‘n 20-jarige jong man van Riebeek-Wes is Saterdagaand omstreeks 23:00 twee keer in Convillestraat deur ‘n voertuig getref. Die bestuurder van die voertuig het met ‘n hoë spoed weggejaag.
* Twee Mosambiekse-burgers (35 en 29 jaar oud) is Sondagaand omstreeks 19:20 in Ongegund, Vredenburg, gewond. Die twee het saam met vriende gekuier toe ‘n onbekende man hulle genader en met ‘n vuurwapen gedreig het. Die rower het hul selfone geëis, die vuurwapen se magasyn uitgehaal en ‘n ander een ingesit. Hy het skote op hulle afgevuur en die klaer (29) is in al twee bene gewond. Sy vriend is in die dy gewond. Die rower het weggehardloop;
* ‘n Kers wat in ‘n leë koffieblik gestaan het en waarmee die Willem Lewies (52) sy sigarette aangesteek het, het vermoedelik omgeval en kan die oorsaak wees waarom sy huis met hom daarin op die Sandbergplaas in Graafwater afgebrand het. Die brand is geblus. ‘n Geregtelike doodsondersoeksaak is geopen.
* Die lyk van ene Jan Jantjies is Saterdagmiddag (13 Junie) omstreeks 14:40 in ‘n rivier op ‘n plaas in die Citrusdal-omgewing gevind. ‘n Geregtelike doodsondersoeksaak is geopen.
* Die afgelope Saterdagaand (13 Junie) om 20:10 het die motorfietsryers Chad Steyn (32) op die N7 vermoedelik beheer oor sy motorfiets verloor. Sy liggaam is ‘n entjie verder van sy motorfiets af in ‘n kanaal onder die brug gevind. Steyn is op die toneel oorlede. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
* Bantu Joyce (25) is Dinsdag om ongeveer 18:30 aangekeer nadat inliging ontvang is dat hy in besit is van goedere wat die afgelope naweek uit ‘n huis in Hoogstraat in Vredendal gesteel is. Joyce, wat Woensdag in die hof verskyn het, beweer hy het die goedere by een van die verdagtes, wat by die huis ingebreek het, gekoop.
* Op Sondagaand (14 Junie) om 20:20 was ‘n 26-jarige burger van Bangladesh en kollegas besig om hul winkel in Voortrekkerstraat in Vanrhynsdorp toe te maak toe ‘n onbekende man die winkel binnekom en geld gëeis het. Die rower was gewapen met ‘n vuurwapen en het ongeveer ‘n R1 000 uit die kasregister gevat en ‘n skootrekenaar gegryp voordat hy weggehardloop het. Twee skote het egter afgegaan en ‘n 22-jarige man is in sy linkerarm gewond. ‘n Sakerooftog- en poging tot moordsaak is geopen. Luthando Mnisi (46)staan tereg op aanklagte van poging tot moord en sakeroof. Hy sal ook drie verdere aanklagte in die gesig staar nadat die polisie ‘n ongelisensieerde vuurwapen met ‘n afgevylde reeksnommer in sy besit gevind het – besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen, besit van ammunisie en dat die vuurwapen se reeksnommer afgevyl is.




